Woensdag, 4 Desember

ADVENT ‘24, Woensdag, 4 Des.

WEEK 1 – HOOP


Daar kom tye wanneer ‘n mens werklik alle hoop verloor. As dit gebeur, vou jou hele lyf dubbel en die gravitas van hoopverlorenheid trek jou af grond toe. Soos die jong vrou wie se kleuter ek jare gelede begrawe het. Nooit sal ek die gevoel in my eie binneste vergeet nie – toe nog self ‘n jong predikant – terwyl ek toekyk hoe hierdie vrou haarself in verdriet verloor toe die mense grond op die kissie gooi. Ek kon net my kop knik toe sy met ‘n besoek vir my sê, “Alles van my is saam met my kind begrawe.” Hoop het gesterf.

Ons moet eerlik wees, ons koppel hoop menigmaal aan die smagting na hoe ons die uitkoms van gebeure wil hê. Dit is te verstane dat jou begeerte is dat jou kind nie sal sterf nie. Daarom hou jy tot op die laaste aan elke grashalm vas. Totdat ook dit uit jou greep getrek word. Dan bly niks oor nie.

Die Hoop van Advent waarborg nie dat jou siel nooit tot die been toe oopgekloof word nie. Wat wel gebeur, is dat die Hoop van Advent júís langs jou buk en saam huil. Woordloos lig die Hoop van Advent jou aan jou arm op en stap saam met jou terug na die leë lewe wat voorlê.

Die Hoop van Advent lê daarin dat “selfs duisternis nie vir U donker nie” (Ps 139:12, 2020-vert), al kan ek nou niks anders as donkerte sien nie.

Die Hoop van Advent is Iemand. Immanuel. Die Gekruisigde. Die Lewende.

Ek dink die seisoen van Advent is juis vir stukkende mense bedoel. Dit is juis húlle wat met ‘n uitgesteekte hand vorentoe strek en pleit: “Hou my in U hand vas.”

GEBED: Saam met elke hand wat uitstrek, strek ek ook my hand uit na U: Hoop van my lewe.

MUSIEK: Ons kyk na die liriekvideo van “He is the Gift”deur Shawna Belt Edwards