DIE TAFEL (#5 – 7 Aug)
DAAR IS NOG PLEK AAN DIE TAFEL
📖 " Kom, alles is gereed . ." (Lukas 14:17)
🍞 PROE DIE BROOD
Aan Christus se tafel is die grootste wonder nie wie daar sit nie, maar dat daar nog plek is.
Ons leef maklik met die gevoel dat ons eers iets moet bewys voordat ons werklik welkom is. Nog ‘n bietjie beter… Nog ‘n bietjie heiliger… Nog ‘n bietjie waardiger….
Maar Jesus vertel ‘n gelykenis van ‘n feesmaal waar die verrassing nie die kos is nie. Die verrassing is die uitnodiging.
Toe die oorspronklike gaste weier om te kom, stuur die gasheer sy dienaars uit om nóg mense te gaan haal.
Armes.
Kreupeles.
Blindes.
Verlamdes.
En toe kom een van die mooiste sinne in die Evangelies: “Daar is nog plek.”
Die tafel van Christus is nie vol omdat almal dit verdien nie. Dit is vol omdat sy genade groter is as ons onwaardigheid.
En selfs vandag sê die Gasheer nog:
“Kom, want alles is gereed.”
💎 *ONTDEK DIE SKAT*
Lees Lukas 14:15–24.
Hierdie gelykenis word vertel tydens ‘n maaltyd by ‘n Fariseër se huis. Let op dat uitnodiging kom omdat alles reeds gereed is. Niemand bring iets saam om die fees moontlik te maak nie. Alles word voorsien.
Dit is ‘n pragtige beeld van die evangelie. Christus het reeds alles gedoen het.
Die hoogtepunt is sekerlik: selfs nadat baie mense gekom het, is die tafel nog nie vol nie.
God se hart is altyd groter as ons verwagtinge.
Lees ook: Jesaja 55:1–3 en Openbaring 19:6–9.
Van die Ou Testament tot die laaste boek van die Bybel word God se koninkryk telkens as ‘n feesmaal beskryf. Die tafel is uiteindelik ‘n voorsmaak van die bruilofsmaal van die Lam.
🙏 Here Jesus, dankie dat U my nie nooi omdat ek waardig is nie, maar omdat U genade genoeg is. Hou my altyd naby U tafel. Amen .
🌱 GROEIPUNT
Wie in jou lewe dink dalk dat daar nie plek vir hom of haar by God is nie?
Bid vandag vir daardie persoon.
En vra die Here of Hy jou dalk wil gebruik om sy uitnodiging sigbaar te maak.

