#8: Deur die water na vryheid

VAN GENESIS TOT OPENBARING (10 Sept)
#8: Deur die water na vryheid

⁠"Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met 'n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is." (Eksodus 14:21)

Agter hulle hoor hulle die wiele van Farao se strydwaens. Voor hulle is water. Israel is vasgekeer.

En dan sê Moses: “Moenie bang wees nie. Staan vas en kyk hoe die Here julle vandag gaan red.” (Eks 14:13).

Ons lees hierdie verhaal maklik as ’n verhaal oor God wat ’n pad maak waar daar geen pad is nie.
Maar miskien gebeur daar iets groter.
Die Rooisee is nie net ’n pad vorentoe nie. Dit is ook ’n grens agtertoe.

Aan die ander kant van die water lê Egipte. Die plek waar hulle slawe was. Die plek waar hulle lewens deur Farao bepaal is. Die plek waaruit God hulle uitgehaal het.

Toe Israel deur die water beweeg, gaan hulle dus nie bloot van een plek na ’n ander nie. Hulle gaan van een identiteit na ’n ander: As slawe stap hulle die water binne. As bevryde volk kom hulle aan die ander kant uit.

Dit is waarom Eksodus 20:2 later so belangrik is: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, bevry het.”

God herinner hulle nie eerste aan die wonder van die see nie. Hy herinner hulle aan wie hulle nie meer is nie.

Dalk is dit een van die verrassendste dinge van God se verlossing: Ons dink God moet die waters voor ons wegneem. Soms gebruik Hy die waters om ons van ons verlede te skei.

Ons wil graag teruggaan wanneer die pad vorentoe moeilik raak. Egipte begin selfs later vir Israel aantreklik lyk. Hulle onthou die kos, maar vergeet die kettings.
Daarom is bevryding meer as om uit iets uit te kom.
Dit is om nie meer aan die verlede te behoort nie.

Paulus skryf eeue later: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees.” (Gal 5:1)

Die goue lyn is dat God mense bevry om hulle ’n nuwe lewe te gee – en soms lê die grens tussen die ou lewe en die nuwe lewe presies daar waar hulle die bangste is om deur te gaan.

Die Rooisee was dus ‘n afskeid van ‘n ou lewe wat agtergebly het vir Israel.

En aan die ander kant?
’n Volk wat nog nie weet hoe om vry te leef nie – maar wat wel vry is.

🔥 Miskien is geloof nie altyd om te vra: “Here, haal hierdie water uit my pad” nie. Miskien is dit soms: “Here, gee my die moed om deur te gaan – en nie terug te gaan nie.”

🔑 ONTDEK DIE GOUE LYN

Lees die volgende tekste en kyk hoe die Bybel telkens water verbind met nuwe lewe, bevryding en God se teenwoordigheid:

•⁠ ⁠Eksodus 14:13–22 – Wat moes Israel agterlaat toe hulle deur die water gaan?
•⁠ ⁠Jesaja 43:16–19 – Wat sê God oor die pad wat Hy maak? Wat is nuut aan hierdie belofte?
•⁠ ⁠Johannes 4:10–14 en 7:37-39 – Waarom gebruik Jesus juis water as beeld vir die lewe wat Hy gee?
•⁠ ⁠Openbaring 22:1–2 – Waarheen lei die Bybel se verhaal uiteindelik?

BID SELF VERDER
•⁠ ⁠Dink aan jou eie “Egipte” – nie net die dinge waarvan jy bevry wil word nie, maar ook die dinge waarna jy soms terugverlang.
•⁠ ⁠Is daar iets in jou ou lewe wat jy steeds as ’n moontlike toevlug beskou?
•⁠ ⁠Vra vandag nie net: “Here, maak ’n pad” nie. Vra ook, “Here, help my om nie terug te gaan nie.”

MÔRE SE GOUE LYN: – Die woestyn – ’n oefenruimte tot vryheid