VAN GENESIS TOT OPENBARING (8 Sept)
6#: Gewone mens – buitengewone sending
"Die Here het vir Abram gesê: Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys" (Genesis 12:1)
Die Bybel beskryf Abraham as die geloofsheld (bv Heb 11:9). Maar kyk mooi. Genesis 12 begin nie met Abraham se geloof nie.
Dit begin met God se woord.
God sê: “Gaan.”
En dan volg gehoorsaamheid.
Abraham weet nie alles nie. Hy het nie ‘n volledige reisplan nie. Hy weet nie wat wag alles vir hom in die toekoms nie.
Hy het net God se belofte.
Dit is belangrik vir die groter verhaal van die Bybel.
Want die goue draad begin al hier sigbaar word:
God roep. Mense antwoord. God dra die verhaal verder.
Abraham se roeping gaan egter nie net oor Abraham nie.
God sê: ” Jy moet tot ‘n seën wees .”
God se bedoeling was van die begin af groter as een mens.
Die seën wat Abraham ontvang, moet deur hom na ander beweeg. Baie eeue later sal Paulus hierdie belofte weer optel en dit aan Christus verbind (Kyk na die tekse in die “Goue Draad”)
Die verhaal wat met Abraham begin, loop uiteindelik tot by die Evangelie – die Goeie Nuus van Christus.
Dit is die wonder van die Bybel:
God is besig met iets baie groter as my eie klein storie.
En tog roep Hy my om deel daarvan te wees.
🔥 Geloof is nie om die hele pad te sien nie; geloof is om die Een wat roep genoeg te vertrou vir die volgende tree.
🔑ONTDEK DIE GOUE LYN
• Genesis 15:1–6
• Jesaja 41:8–10
• Galasiërs 3:6–9
• Galasiërs 3:29
BID SELF VERDER:
• Praat vandag met God oor die plek waar jy graag die hele padkaart wil hê voordat jy beweeg.
• Vra Hom: “Here, wat is my volgende tree?”
• Moenie haastig wees om jou eie antwoord te gee nie.
• Word stil. Luister.
MÔRE SE TEMA – God kyk. God hoor. God doen.*

