DIE TAFEL (#2 – 4 Aug)
JY IS MEER AS JOU VERLEDE
📖 “… maar een ding doen ek: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voorlê .” (Fil 3:13)
🍞 PROE DIE BROOD
• Genade verander nie net jou bestemming nie; dit verander ook jou identiteit.
Ons almal leef met ‘n verhaal.
Daar is hoofstukke waarvoor ons dankbaar is. Maar daar is ook bladsye wat ons wens nooit geskryf was nie.
Ons dink maklik ons identiteit word gevorm deur wat met ons gebeur het of deur wat ons gedoen het.
Die evangelie vertel ‘n ander verhaal.
Paulus het nooit vergeet dat hy die kerk vervolg het nie. Maar hy het ook nie meer sy identiteit gebou op sy indrukwekkende godsdiens of sy prestasies nie. Een waarheid het groter geword as alles anders:: Hy behoort aan Christus.
Jesus nooi jou nie na sy tafel omdat jy ‘n perfekte verlede het nie. Hy nooi jou omdat Hy besig is om jou nuut te maak. En wanneer jy van sy tafel af opstaan, dra jy steeds jou geskiedenis saam. Maar jou geskiedenis dra jou nie meer nie. Christus doen.
Dit is die wonder van genade.
💎 ONTDEK DIE SKAT
• Lees Filippense 3:1–16.
Wanneer ons by vers 13 kom, dink ons gewoonlik Paulus praat van sy sondige verlede. Maar die verrassende ontdekking lê ‘n paar verse vroeër. Paulus noem alles waarop hy vroeër sy identiteit gebou het: sy afkoms, sy godsdiens, sy geleerdheid en sy onberispelike lewe volgens die wet (3:5–6).
Dan sê hy iets verstommends: ” Maar wat vir my ‘n bate was, dit beskou ek nou as verlies ter wille van Christus. ” (3:7)
Paulus laat dus nie net sy mislukkings agter nie. Hy laat ook sy prestasies agter.
Waarom?
Omdat selfs goeie dinge afgode kan word wanneer ons ons waarde daarin soek.
Dit is die evangelie se bevrydende waarheid: My identiteit rus nie op wat ek verkeerd gedoen het nie. Maar ook nie op wat ek reg gedoen het nie. My identiteit rus in Christus alleen.
• Lees ook: 2 Korintiërs 5:17–21.
Hier beskryf Paulus wat dit beteken om ‘n nuwe skepping te wees. Jou verlede word nie uitgewis nie, maar jou lewe kry ‘n nuwe middelpunt: Christus self.
🙏 Here Jesus, dankie dat U my identiteit nie in my verlede vind nie, maar in U genade. Leer my om vandag uit daardie waarheid te leef. Amen.
🌱 GROEIPUNT
• Watter stem bepaal vandag die meeste hoe jy oor jouself dink?
• Jou verlede?
• Of die stem van Christus wat sê: “Jy behoort aan My.”

