DANKBAAR (STEEDS DESONDANKS) (8 Okt)
#6 Mense wat in my lewe “geskryf” het
📖 “Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.” (Filippense 1:3)
✍️ – Sommige mense stap deur ons lewe sonder om ooit te weet hoeveel hulle vir ons beteken. ’n Woord op die regte tyd. ’n Hand wat help. ’n Mens wat bly wanneer ander weggaan.
Ons raak so gewoond aan mense se teenwoordigheid dat ons hulle maklik as vanselfsprekend aanvaar.
Paulus skryf aan die gemeentelede in Filippi: en erken, “Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.” Wat ’n mooi manier om oor mense te dink. Nie: Wat doen hulle vir my? Nie: Wat behoort hulle nog te doen? Maar: Wanneer ek aan hulle dink, word ek dankbaar.
Paulus herinner ons ook vandag: “Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar.” Dankbaarheid leer my dus om mense as geskenke te ontvang.
Dink vandag aan iemand wat ’n spoor in jou lewe gelaat het. Miskien is dit iemand wat jy gereeld sien. Miskien iemand wat lankal weg is. Miskien iemand wie se invloed jy eers later verstaan het.
Moenie net sê: “Ek is dankbaar vir daardie persoon” nie.
Laat dankbaarheid ’n naam kry.
Want God se goedheid kom dikwels deur mense se hande, woorde en trou na ons toe.
🔎 LEES VERDER: Romeine 12:1 en Filippense 1:1–11
Let op hoeveel van Paulus se gebed deur sy dankbaarheid vir ander mense gevorm word.
🙏 GEBED
Here, dankie vir die mense wat my lewe op een of ander manier aangeraak het.
Vir dié wat my gehelp het toe ek dit nodig gehad het. Vir dié wat my geleer het. Vir dié wat gebly het.
Help my om mense nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.
👣 Uitdaging
Kies vandag een persoon aan wie jy lanklaas gesê het wat hulle vir jou beteken.
Stuur ’n boodskap, maak ’n oproep of sê dit persoonlik.
Moenie net dink, “Ek waardeer jou” nie. Sê dit.
MÔRE SE TEMA: Dankbaarheid moet uitgespreek word

