VAN GENESIS TOT OPENBARING (15 Sept)
#11: Wanneer God tussen mense kom woon
"Hulle moet vir My ’n heiligdom maak, dat Ek tussen hulle kan woon." (Eksodus 25:8)
Die verstommende van die tabernakel is nie die goud, die tent of die heilige voorwerpe nie. Dit is hierdie een ding: Dat die Skepper van hemel en aarde kies om met Sy alomteenwoordigheid tussen mense tuis te wil kom.
Maar God se teenwoordigheid is nooit bloot ’n idee nie. Dit is ’n verhouding. Daarom beteken “God is hier” meer as dat Hy êrens in die onsigbare wêreld bestaan.
Dit beteken: Hy is betrokke. Hy luister. Hy lei. Hy praat. Hy vra om gehoor te word. Om geken te word.
Die tabernakel maak iets sigbaar wat ons maklik vergeet: God wil nie net hê dat ons oor Hom moet weet nie. Hy wil hê dat ons saam met Hom moet leef.
Kyk hoe ver loop hierdie goue lyn: Die tabernakel word later die tempel. Dan kom Jesus – Immanuel, God met ons. Later word die Kerk die tempel van God genoem wat die Gees huisves. En uiteindelik lees ons in Openbaring: “Kyk, die woonplek van God is by die mense.”
Van die tabernakel tot die Nuwe Jerusalem bly God se bedoeling dieselfde: Mense is waar Hy wil wees. Nêrens anders nie.
🔥 Die wonder van geloof is nie net dat God bestaan nie; dit is dat God naby wil wees.
🔑 ONTDEK DIE GOUE LYN
Soek self die goue lyn in hierdie tekste (en daar is nog veel meer):
• Eksodus 25:8 – God kies om tussen sy volk te woon.
• 1 Konings 8:27 – Selfs die tempel kan die onmeetlike God nie bevat nie.
• Johannes 1:14 – God kom in Christus onder ons woon.
• 1 Korintiërs 3:16; 1 Korintiërs 6:19-20 – Ook die Gees woon onder ons.
• Openbaring 21:3 – God se woonplek is uiteindelik by die mense.
Wat verander in my lewe wanneer “God is hier” nie meer net ’n geloofsbelydenis is nie, maar ‘n daaglikse verhouding?
BID SELF VERDER:
Raak net eers stil voor God en beleef dat God teenwoordig is.
• Praat dan eerlik met God – Wanneer leef jy asof God ver is? Waarom?
• Hoe kan jy met ‘n groter bewustheid bewus bly van God se teenwoordigheid?
• Wat sou vandag anders wees as jy werklik bewus was: God is hier?
• Vra dat God jou vandag van sy teenwoordigheid bewus sal hou.
MÔRE SE GOUE LYN: As God in ons midde is, kan niemand meer vra wie die Koning van ons lewens moet wees nie.

