DANKBAAR (STEEDS DESONDANKS) (13 Okt)
#9 Dankbaarheid word vrygewigheid
📖 “Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees.” (2 Korintiërs 9:11)
✍️ – Ons gebruik die woord “my” so maklik: my tyd, my geld, my huis, my kennis, my ervaring, my gawes. En natuurlik is daar iets waar aan daardie “my” – maar die Bybel plaas ’n ander woord langsaan: gawe.
Paulus herinner ons dat ons eintlik ‘n “hand van oorvloed” het – hy noem ons “ryk.” En juis daarom kan ons aan ander wie se hand leër is, aangee. Let op die beweging: God gee, ons ontvang, en dan vloei dit verder.
Dit is ’n ander manier om na oorvloed te kyk. Ek sou dadelik kon protesteer, wetend ek het beslis nie daardie sg. “hand van oorvloed” nie. En tog … oorvloed beteken nie noodwendig dat ek baie het nie. Dit kan beteken dat daar iets in my hande is wat juis nou bedoel is vir iemand wat dit nodig het.
Petrus skryf: “Elkeen moet, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander daarmee dien” (1 Petrus 4:10). Rykdom gaan dus oor veel meer as besittings. Dit gaan oor my menswees. Wat ek ontvang, word dus die werktuig waarmee ek ander kan dien.
Dalk is dit een van die mooiste verrassings van dankbaarheid: dit laat my ophou vra, “Wat kan ek nog kry?” en ek begin vra, “Wat kan God deur my laat gebeur?”
’n Dankbare lewe word dan nie ’n reservoir nie.
Dit word ‘n stroompie. En nog stroompies kom by. En dit word ‘n rivier wat na die oseaan vloei.
Dit is hoe ‘n dankbare lewe werk.
🔎 Lees verder:
2 Korintiërs 9:6–15;
1 Petrus 4:7–11
🙏 Here, wys my wat U in my hande gesit het wat vandag deur my na iemand anders kan vloei.
👣 Uitdaging
Kies vandag een ding wat jy goed kan doen – iets wat vir jou amper vanselfsprekend geword het – en gebruik dit doelbewus tot voordeel van iemand anders.
MÔRE SE TEMA: Die offer van dankbaarheid

