#2 Goue lyn → Ek ontdek wie ek is wanneer ek ontdek aan Wie ek behoort

VAN GENESIS TOT OPENBARING (2 Sept)
#2 Goue lyn → Ek ontdek wie ek is wanneer ek ontdek aan Wie ek behoort

⁠"God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. " (Gen 1:27)

Ons wêreld vra voortdurend:
“Wie is jy?”
Gewoonlik antwoord ons met wat ons doen.
Ek is ‘n onderwyser.
Ek het my eie besigheid.
Ek is ‘n ma of ‘n pa.
Ek is afgetree.
Of ons antwoord met wat ons bereik het. Hoe groot ons gesin is. Waar ons bly. Wat ons besit.
Alles is ‘n “my … my … my.”

Maar die Bybel begin op ‘n ander plek.
Nog voordat die mens enigiets gedoen het, het God reeds iets oor daardie smens gesê: Jy is gemaak na my beeld.
Ons waarde lê dus nie in ons prestasies nie – en ook nie in hoe hoog ons al die leer geklim het nie.
Ons waarde lê daarin dat ons aan God behoort.

Maar “beeld van God” beteken meer as net dat elke mens waarde het.
‘n Beeld wys na iemand anders.
Die mens is geskep om iets van God in hierdie wêreld sigbaar te maak. Maar, jy kan net iemand verteenwoordig wat jy ken. So ook met God. Hoe beter jy God leer ken, hoe meer kan jy God se karakter in die wêreld uitleef.

Dit verander die vraag. Dit is nie meer net: “Wie is ek?” Maar, “Wie S’n is ek?” Dan kom die antwoord: “Wie word sigbaar deur my?”

🔥 Wanneer ons onthou Wie ons – en almal om ons – gemaak het, begin ons eers ontdek hoe ons bedoel is om te wees.

⁠🔑 ONTDEK DIE GOUE LYN 

•⁠ ⁠Psalm 8:4–7
•⁠ ⁠Genesis 9:6
•⁠ ⁠2 Korintiërs 6:1

BID SELF VERDER:
1.⁠ ⁠Dank die Here dat jou waarde nie deur jou prestasies bepaal word nie – en ook nie deur jou mislukkings afneem nie.
2.⁠ ⁠Praat met God oor die manier waarop jy jouself tans definieer.
3.⁠ ⁠Vra Hom dan: “Here, wat van U moet mense in my lewe kan raaksien?”
4.⁠ ⁠Word stil en luister.

Môre se tema: Die mens kruip weg; God kom soek.

Word ‘n donateur om hierdie dagstukke te laat uitbou. [Bankbesonderhede: Standard Bank, Takkode 051001; Rek No: 080042805; RM BEZUIDENHOUT]

Nooi gerus vriende om ook daagliks die stukke te ontvang deur hul selnommers vir my aan te stuur.