DANKBAAR (STEEDS DESONDANKS) (9 Okt)
#7 Dankbaarheid moet uitgespreek word
📖 “En een van hulle het, toe hy sien dat hy gesond geword het, omgedraai en God met ’n harde stem begin prys.” (Lukas 17:15–16)
✍️ – Ons dink dikwels dankbaarheid is iets tussen my en God: ek ontvang iets, ek sê “dankie”, en die saak is afgehandel.
Maar Bybelse dankbaarheid wil nie stilbly nie. Soos Paulus aan die gemeente in Kolossense ook skryf: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon … en sing met dankbaarheid in julle harte tot eer van God”. Dankbaarheid soek ’n stem. Dit wil gehoor word.
Dink aan die tien melaatses wat Jesus genees het. Al tien is gereinig, maar net een het teruggekom om God te loof. Jesus vra: “Waar is die ander nege?” Want ’n gawe wat raakgesien word, vra vir ’n antwoord.
Miskien is dit waarom ons soms minder dankbaar voel as wat ons behoort te wees: ons dink dankbare gedagtes, maar spreek dit selde uit.
Daar is mense wat dalk nooit sal weet dat hulle iets vir jou beteken het nie – tensy jy dit sê.
Daarom is vandag se dankbaarheid eenvoudig: gee dit ’n stem. Sê vir God wat jy raaksien. En sê vir iemand wat jy waardeer wat hulle vir jou beteken.
Dankbaarheid wat net in my hart bly, kan maklik ’n gedagte word. Wanneer ek dit uitspreek, word dit ’n geskenk wat verder beweeg.
🔎 LEES VERDER: Lukas 17:11–19 en Kolossense 3:12–17
Let op die verskil tussen ’n gawe ontvang en na die Gewer terugdraai.
🙏 GEBED
Here, dankie vir die goeie wat ek ontvang en so maklik as vanselfsprekend aanvaar.
Gee my die moed om dankbaarheid nie net in my gedagtes te hou nie.
Wys my vandag wie se naam ek moet uitspreek.
👣 Uitdaging
Sê vandag vir twee mense waarom jy hulle waardeer.
Moenie aanvaar hulle weet dit reeds nie.
Dankbaarheid kry ’n stem wanneer ek dit uitspreek.
MAANDAG SE TEMA: Dankbaarheid word liefde

