#5: Goue lyn → Naam-maak?

VAN GENESIS TOT OPENBARING (7 Sept)
#5: Goue lyn → Naam-maak?

⁠"Kom ons bou vir ons 'n stad met 'n toring waarvan die spits tot in die hemel reik en ons maak vir ons 'n naam." (Genesis 11:4)

Babel begin met ’n goeie ding: mense bou.
Hulle droom groot. Hulle werk saam.
Hulle wil iets blywends skep.
Maar het jy hierdie woorde raakgesien: “vir ons.”
Dáár lê die probleem.

Die toring is nie die eintlike probleem nie. Die begeerte om ’n naam te hê, is. Hulle wil iets bou wat vir altyd sal sê: Kyk wat het óns gedoen.

En skielik voel Babel baie nader aan ons as wat ons dalk dink.

Ons bou ook. ’n Loopbaan. ’n Huis. ’n reputasie. ’n nalatenskap. Selfs ’n geloofslewe kan ’n manier word om vir onsself ’n naam te maak.

Babel is Genesis 3 se ou versoeking in ’n nuwe gedaante: om self te bepaal wie ons is en self ons waarde te vestig.

Maar dan draai die verhaal.

By Babel sê die mens: “Ons maak vir óns ’n naam.”
Vir Abraham sê God: “Ek sal jou naam groot maak … en jy moet tot ’n seën wees.” (Gen 12:2)

Wat die mens probeer gryp, gee God as gawe. Bou dus aan die regte bouwerk.

🔥 Die lewe gaan nie uiteindelik oor die grootheid van my naam nie. Dit gaan oor die grootheid van God se Naam.

⁠🔑  ONTDEK DIE GOUE LYN

•⁠ ⁠Genesis 12:1–3
•⁠ ⁠Psalm 115:1
•⁠ ⁠Johannes 3:30
•⁠ ⁠Filippense 2:9–11
Let veral op die kontras tussen Genesis 11:4 en Genesis 12:2.

BID SELF VERDER:
•⁠ ⁠Praat vandag met God oor die plekke waar jy steeds probeer om jouself te bewys. Waar soek jy erkenning? Waar wil jy raakgesien word? Waar is jy besig om jou eie naam groter te maak?
•⁠ ⁠Vra Hom: “Here, hoe kan my lewe vandag U Naam groter maak?”
•⁠ ⁠Word dan stil en luister.

MÔRE SE TEMA – God se seën beweeg wanneer mense beweeg.