DANKBAAR (STEEDS DESONDANKS) (12 Okt)
#8 Dankbaarheid word liefde
📖 “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” (1 Johannes 4:19)
✍️ – Dankbaarheid wat net in my hart bly, is nog nie klaar nie. Iets gebeur wanneer ek begin besef hoeveel ek ontvang: my hande begin oopgaan.
Ons dink maklik dat dankbaarheid ’n antwoord is op wat God vir ons doen. Ek ontvang; daarom sê ek dankie. Maar die Nuwe Testament laat ons ’n groter beweging sien: genade wat ontvang word, begin deur ons heen beweeg. Goedheid vloei altyd verder.
“Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (1 Johannes 4:19). Die volgorde is belangrik. Ons liefde is nie die oorsprong nie. Dit is ’n antwoord op voorafgaande liefde. Daarom kan Paulus in 2 Korintiërs 9:11 sê dat God ons “in alles ryk genoeg” maak om vrygewig te wees. Wat ons ontvang, is nie bloot eindpunt nie; dit kan deur ons verder gaan.
Dit verander ook hoe ek na my gawes kyk. My tyd, ervaring, geld, geduld, kennis en selfs my wonde behoort nie noodwendig by my te eindig nie.
Dankbaarheid vra dus vandag ’n ongemaklike vraag: Wat gebeur met God se genade wanneer dit by my aankom? Word dit daar opgegaar? Of vergroot dit my vermoë om lief te hê?
Hoe meer ek besef wat ek van God ontvang, hoe dankbaarder word ek. Hoe dankbaarder ek is, hoe meer kry dit ‘n ‘n medemenslike vorm. Dit werk so:
- Ek ontvang genade.
- Ek herken genade.
- En dan word ek ’n kanaal waardeur genade verder kan beweeg.
🔎 Lees verder:
1 Johannes 4:7–21;
Galasiërs 6:1–10
🙏 Gebed: Here, wie het U dalk in gedagte toe U my met soveel genade oorlaai het.
👣 Uitdaging
Vra vandag: “Wat het ek ontvang wat ek vandag aan iemand anders kan laat oorgaan?” Doen dit sonder om erkenning daarvoor te verwag.
MÔRE SE TEMA: Dankbaarheid word vrygewigheid

