#7: God kyk. God hoor. God doen.

VAN GENESIS TOT OPENBARING (9 Sept)
#7: God kyk. God hoor. God doen.

⁠"God het die gekerm van die Israeliete gehoor en God het aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink." (Eksodus 2:24)

Hierdie is ’n klein vers met ’n groot verhaal binne-in. Want kyk na die beweging: Die volk kerm. God hoor. En, God onthou.

Die “onthou” beteken natuurlik nie dat God vergeet het en toe skielik weer onthou het nie.
Dit beteken dat God nou optree volgens die verbond wat Hy met Abraham gemaak het.

Die goue lyn het nie in Egipte gebreek nie. Dit loop verder. Totdat God sê, “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien… Ek het hulle noodkrete gehoor…”

God sien.
God hoor.
En dan stuur God iemand.

Dit is merkwaardig – God kon self alles met een beweging verander, maar Hy kies om vir Moses te gebruik.
’n Man met ’n ingewikkelde verlede.
’n Man wat onseker oor homself was.
En God se antwoord is eintlik net dit: “Dit gaan nie oor wie jy is nie. Dit gaan oor Wie saam met jou gaan.”

En so word die goue lyn al hoe duideliker:
God skep.
God belowe.
God roep.
God hoor.
God stuur.
God bevry.

Die Bybel se verhaal is dus nie ’n versameling los wonderwerke nie.
Dit is een God wat deur die geskiedenis heen getrou bly aan wat Hy begin het.
En Israel se bevryding begin nie by Moses nie.
Dit begin by God se hart. ‘n Hart wat in beweging kom oor dit wat God sien.

Miskien is dit vandag vir jou genoeg om net daar te bly.
Jy hoef nie vandag te weet hoe God gaan handel nie.
Jy hoef nie die hele antwoord te hê nie.
Maar jy mag hierdie drie dinge glo:
God sien.
God hoor.
God doen.

🔥 God se stilte beteken nie dat Hy afwesig is nie; Hy sien, Hy hoor en Hy bly getrou aan sy belofte.

⁠🔑 ONTDEK DIE GOUE LYN 

•⁠ ⁠Eksodus 3:7–10
•⁠ ⁠Eksodus 6:2–8
•⁠ ⁠Psalm 34:18
•⁠ ⁠Psalm 116:1–2
•⁠ ⁠Lukas 18:7–8
•⁠ ⁠Galasiërs 3:29

BID SELF VERDER:
•⁠ ⁠Bring vandag voor God dit waaroor jy al lank roep.
•⁠ ⁠Moenie dadelik vra: “Wanneer gaan U iets doen?” nie.
•⁠ ⁠Begin eerder met: “Here, dankie dat U sien. Dankie dat U hoor.”
•⁠ ⁠Vra Hom om jou te help om Hom te vertrou met die hoe en wanneer.
•⁠ ⁠En onthou vandag eenvoudig:
God kyk af.
God hoor.
En God doen.


MÔRE SE GOUE LYN: Deur die water na vryheid.