ADVENT ‘24, Dinsdag, 3 Des.
WEEK 1 – HOOP
Hier is nou vir jou ‘n lekker kopkrapper: wanneer is hoop net ‘n wens? Maklik – as daar nie ‘n waarborg is nie, dan is dit net ‘n wens. Wanneer daar ‘n waarborg is, verander dit na ‘n sekerheid toe. Bybelse hoop is ‘n voorbeeld – dit is ‘n gewaarborgde sekerheid. So leer Heb 11:1 ons: “Geloof is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie” (2020-vertaling). Maar, hoe de glorie kan ‘n mens met soveel sekerheid oortuig wees van iets wat nog nie gesien is nie? Is dit nie dan ook maar net ‘n wens nie? Nie as jy ‘n waarborg daarvoor ontvang het nie. Christelike hoop is dus ‘n gewaarborgde hoop. Hoe beter ons ons geloofsverhaal (en daarmee saam, al God se beloftes) ken, hoe sterker sal ons hoop word.
Søren Kierkegaard het eenmaal gesê: “Dit is deur agtertoe te kyk dat jy vorentoe kan leef.” Het dit jou dalk al opgeval dat – met die uitsondering van een – al ons kerklike feestye met terugkyk te make het. So is Kersfees ‘n “onthou-fees” – van God wat ‘n mens geword het. Lydenstyd is ‘n “onthou-fees” – van die kruispad van Jesus. Paasfees is ‘n “onthou-fees” – die dood het nie die laaste seggenskap nie. Pinkster se onthou gaan oor die uitstorting van die Heilige Gees. Maar, daar is een “vorentoe kyk-fees” – Advent. Dit is die een feestyd waar al ons “onthoue” bymekaar gevoeg word en as waarborge dien waarop ons ons Adventshoop bou.
Hoop het met vorentoe-kyk te make, geplant in die geloof van al die waarborge wat God gegee het. Dit klink dalk ‘n bietjie tegnies, maar hoe anders sal ons ooit Christelike hoop leer ken as ons nie die ritme van agtertoe en vorentoe verstaan nie.
GEBED: Leer my om te onthou om nie te vergeet nie, Here.
MUSIEK:
Ons kyk na die musiekvideo van die pasvrygestelde kerslied van die Nederlandse-groep Sela.
‘Hoor de gebroken stem:
moeders van Bethlehem.
In de straten wordt hun klacht gehoord
om de levens in de kiem gesmoord.
Hoe doet God ooit recht aan deze pijn?
Zou zijn hart ooit zo gebroken zijn?’
Bethlehem. In die stad waar die Lig van die Wêreld gebore is, het ook ‘n gebeurtenis plaasgevind wat ons nie maklik in die vreugdevolle Kersverhaal noem nie. Iets wat voel soos ‘n tragiese voetnoot in die geskiedenis, ‘n voetnoot wat jong gesinne in diepe hartseer moes gedompel het. Koning Herodes het al die seuns van twee jaar oud en jonger laat doodmaak, in die hoop om die pasgebore koning dood te maak.
In die Kersverhaal gaan hartseer en hoop hand aan hand; in dieselfde stad is ‘n kind gebore: die Koning wat nuwe lewe bring. Met hierdie nuwe liedjie wil ons beide die pyn en die hoop wat die Kersevangelie ons gee, met julle deel.’Moeders van Bethlehem’ is saam met die Hineni Simfonieorkes opgeneem.