Donderdag, 5 Desember

ADVENT ‘24, Donderdag, 5 Des.

WEEK 1 – HOOP


Dit is eers later in my lewe dat ek begin verstaan het waarom ons die nuwe kerkjaar met Advent begin. Sou dit nie beter wees om met Paasfees te begin nie? Dit gaan immers oor werklike nuutheid: die graf is leeg! Of, sou dit nie beter wees om met Pinkster af te skop nie? Die Gees is in en om en by ons. Dit maak ‘n mens sommer lus vir ‘n nuwe jaar.

Aanvanklik was Advent vir my bloot die vier weke waarmee ons Kersdag moes inwag. “Kersfees kom! Kersfees kom!” Maar eintlik is Advent iets anders: dit herinner ons dat ons “tussen-tye” mense is. Met Jesus se koms kon ons sien hoe lyk lewe wat in God se ideale wêreld geleef word. ‘n Lewe waar die Heilige Gees beheer oorneem. Waar my “ek” algaande sterf en mense Christus in my begin herken. Dit is wonderlik dat ons met Kersfees die begin hiervan kan vier. Máár dis nog-het-einde-niet! Hoe meer ons die gebrokenheid begin raaksien om ons (ook in ons), hoe meer begin ons uitroep, “Christus kom weer! Christus kom weer!” Kom maak klaar waarmee U begin het.

Is die beste van Advent nie juis om ons oë oop te maak vir die gebrokenheid van die ondermaanse en dan ‘n verlange by ons wakker te maak na die werklike eindtyd nie? Dit is nie Kersdag wat moet kom nie, Jesus het reeds gekom – eers in die gestalte van ‘n dienskneg (Fil 2:7). Dit is die Koning van alle konings wat moet kom, die Een voor wie elke knie sal buig (2:10).

Ons kan nie wag nie. Waarom? Want, hierdie lewe knel ons met al die pyn. Kom! Kom! So leef “tussen-tyd”-mense. Verlangend.

Advent wil daardie hoop in ons wakker maak.

GEBED: In die tussentyd, terwyl U koms afgewag word, gebruik my om die boodskapdraer van hoop vir die gebrokenes te wees.

MUSIEK:

Ons kyk na die musiekvideo van “Bethlehem, of noblest cities” deur die Gesualdo Six. Aangepas uit ‘n melodie in C.F. Witt se Harmonia Sacra Gotha 1715 deur Owain Park.