#1 Goue lyn → Geloof begin by God, nie by my nie

VAN GENESIS TOT OPENBARING (1 Sept)
#1 Goue lyn → Geloof begin by God, nie by my nie

⁠"In die begin het God die hemel en die aarde geskep." (Gen 1:1)

Die eerste woorde van die Bybel is eenvoudig, maar diep.
Die Bybel begin nie by die mens nie.
Dit begin nie by ons behoeftes, ons vrae of ons probleme nie.
Dit begin by God.
Ons leef maklik asof alles by ons begin. My werk. My gesin. My bekommernisse. My geloof. My toekoms.
Maar Genesis herinner ons aan iets bevrydends:
God was reeds daar voordat ek daar was.
Hy was reeds aan die werk voordat ek gebore is. Hy was reeds getrou voordat ek Hom leer ken het. Hy was reeds besig om sy groot verhaal te skryf voordat my naam ooit daarin verskyn het.
Dit beteken dat die wêreld nie op my skouers rus nie.
My lewe begin nie by my nie.
Dit begin by die God wat voor die begin van alles reeds die Begin was.

🏋️ Geloof begin nie waar ek in die storie kom nie; geloof begin met die ontdekking dat God die middelpunt van die storie is.

⁠🔑 ONTDEK DIE GOUE LYN 

•⁠ ⁠Psalm 90:1–2;
•⁠ ⁠Johannes 1:1–3;
•⁠ ⁠Kolossense 1:15–17

BID SELF VERDER:
1.⁠ ⁠Dank God dat Hy reeds daar was voordat jou verhaal begin het.
2.⁠ ⁠Vertel God watter bekommernisse of verantwoordelikhede jy tans dra asof alles van jou afhang.
3.⁠ ⁠Word dan stil en onthou: God is God. Jy behoort aan Hom.

Môre se tema: Jy is aan Wie jy behoort.

Word ‘n donateur om hierdie dagstukke te laat uitbou. [Bankbesonderhede: Standard Bank, Takkode 051001; Rek No: 080042805; RM BEZUIDENHOUT]

Nooi gerus vriende om ook daagliks die stukke te ontvang deur hul selnommers vir my aan te stuur.