1 WORD WAKKER VIR DIE LEWE

Die Tafel (3 Aug)

1 WORD WAKKER VIR DIE LEWE

⁠Die grootste gevaar vir 'n gelowige is om op te hou om in verwondering te leef.

Efesiërs 5:14: “Word wakker, jy wat slaap, staan op uit die dood; en Christus sal jou verlig.”

💡Daar is ‘n verskil tussen asemhaal en leef.

Ons gaan werk toe, betaal rekeninge, sorg vir ons gesinne, woon eredienste by en doen wat van ons verwag word. Alles ritmies.

Ook geloof kan geleidelik ‘n “nog-iets” word. Só verloor die lewe sy glans. Want God word vir ons vaag.

Paulus praat met gelowiges. Nie omdat hulle nie meer aan Christus behoort nie, maar omdat hulle blind vir God se teenwoordigheid geword het.

Christus het nie gekom om ons net aan die gang te hou tot by die wederkoms nie. Hy het gekom om ons oë oop te maak. Om te ontdek dat God reeds hier is, reeds werk en reeds sy lig oor ons lewe laat skyn.

Delf Dieper
•⁠ ⁠Lees Efesiërs 5:1–20.

Op die oog af klink vers 14 soos ‘n oproep aan ongelowiges om tot bekering te kom. Maar die konteks vertel ‘n ander verhaal. Paulus skryf aan mense wat reeds deel van die kerk is. Daarom sê hy reeds in vers 8: “Vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here.” hy sê nie dat hulle in die lig is nie, maar dat hulle lig is. IDENTITEIT KOM VÓÓR OPDRAG. Weet wie s’n jy is, eers dan sal jy weet waarvoor jy gestuur word.

Vers 14 was waarskynlik ‘n vroeë Christelike dooplied. Die beeld van “wakker word” en “opstaan” herinner aan die saam-met-Christus opkom uit die dood en leef. Paulus sê nie: “Word iemand anders nie.” Hy sê: “Leef soos die mens wat God jou reeds gemaak het.”

•⁠ ⁠Lees ook Romeine 6:3–11.
Hier verbind Paulus ook die doop aan ‘n nuwe identiteit. Christelike groei begin nie deur harder te probeer nie, maar deur die werklikheid van jou doop elke dag nuut te omhels.

Gebed:
🔥Here Jesus, bewaar my daarvan om die dag op “auto pilot” outomaties te leef. Ek wil ontvanklik wees vir U stem en U lig weerspieël. Amen.

🔌Voordat jy vanaand gaan slaap, dink na oor ‘n oomblik waar jy besef het dat God jou iets spesifiek wou laat raaksien. Dank Hom spesifiek daarvoor.