VAN GENESIS TOT OPENBARING (3 Sept)
#3 Goue lyn → Die mens kruip weg; God kom soek
"Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: Waar is jy?" (Gen 3:9)
Ons leef in ‘n gebroke wêreld.
Ons hoef dit nie te bewys nie.
Ons sien dit in oorlog en onreg.
Ons sien dit in die wyse waarop mense mekaar hanteer.
Ons sien dit in ons eie harte.
Genesis 3 help ons verstaan waarom: Die eerste sonde was nie bloot dat ‘n verbode vrug geëet is nie. Die dieper breuk was wantroue.
Die mens begin wonder of God se woord werklik vertrou kan word.
En sodra die mens God nie meer vertrou nie, word die mens algaande sy eie god.
Dit is die goue lyn wat ons deur die hele Skrif sal volg: nie net dat die mens van God weg beweeg, maar veral dat God telkens weer na die mens toe beweeg.
Daarom is die eerste groot vraag ná die sondeval nie ‘n veroordeling nie.
Dit is: “Waar is jy?”
Natuurlik weet God waar Adam is!
Die vraag is nie vir God se inligting nie.
Dit is vir Adam om uit sy wegkruipplek te kom.
Oor-en-oor wil God die mens her-ontmoet.
En dalk is dit vandag ook God se vraag aan ons.
Nie: “Waarom is jy nog nie waar jy behoort te wees nie?”
Maar plein: “Waar is jy?”
🔥 Ek en jy, ons almal, kruip weg van God af. En juis daar is dit waar ons die Genadige God leer ken. Genade begin by God wat aanhou soek.
🔑 ONTDEK DIE GOUE LYN
• Romeine 3:23–24
• Romeine 5:12–21
• Lukas 19:10
• 1 Johannes 4:9–10
BID SELF VERDER:
1. Moenie eers probeer om vir God te verduidelik waarom jy is waar jy is nie. Sê eenvoudig vir God: “Here, hier is ek.”
2. Vertel vir God waar jy bang is. Waar jy seer is. Waar jy Hom nie vertrou nie.
3. En wees dan stil. Laat God se vraag – “Waar is jy?” – jou gebed word.
Môre se tema: God laat nie los wat Hy begin het nie.

