(STEEDS) DANKBAAR – 1 Okt
#1: Dankbaarheid as keuse
✍️ – Dankbaarheid begin nie altyd by iets waarvoor ek dankie kan sê nie. Soms begin dit by ’n keuse: Waarheen rig ek my oë?
Paulus skryf Filippense 4:6–7 vanuit gevangenskap: “Maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. “ Let op: Paulus sê nie dat alles goed is nie. Hy sê ook nie ons moet dankbaar wees vir alles wat gebeur nie. Danksegging staan langs die gebed waarin ons ons nood voor God bring.
Dit is ’n verrassende ding van Bybelse dankbaarheid: dit ontken die werklikheid nie; dit kies waarheen ons met die werklikheid gaan.
Psalm 34:2 sê: “Ek sal die Here altyd loof.” Dawid sê dit nie omdat sy lewe sonder gevaar is nie. Die psalm self vertel van benoudheid. Tog kies hy om sy aandag nie net deur sy omstandighede te laat bepaal nie.
Miskien is dit waar ons vandag begin. Nie met die vraag: “Waarvoor moet ek dankbaar wees?” nie, maar: “Waar is God in hierdie dag?”
Dankbaarheid is dan nie ’n gevoel wat ek moet opwek nie. Dit is ’n rigting waarin ek kan kyk.
In watter rigting is jou hart ingestel toe jy vanoggend die kamergordyne oop trek?
🔎 LEES VANDAG: Filippense 4:4–7 en Psalm 34:2–11
Lees die gedeeltes stadig. Let veral daarop hoe benoudheid en moeilike omstandighede langs mekaar bestaan. Sien raak hoe dankbaarheid ‘n gesindheid is om te kies. Dis nie iets waarvoor jy moet wag nie.
🙏 GEBED
Moenie vandag probeer om ’n mooi gebed te formuleer nie.
Bring eenvoudig vir God wat vandag werklik in jou gedagtes en hart is.
- Begin met:
“Here, vandag sien ek…” - Noem wat jy sien – die goeie én die moeilike.
- Vra dan:
“Here, waar kan ek U raaksien?”
👣 UITDAGING
Neem vandag drie minute en kyk doelbewus terug oor jou dag.
Skryf een ding neer wat jy maklik sou miskyk en een ding waar jy iets van God raakgesien het.
MÔRE SE TEMA: Dankbaarheid as ‘n dissipline

