DANKBAAR (STEEDS DESONDANKS) (7 Okt)
#5 God in die gewone
📖 “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.” (Jakobus 1:17)
✍️ – Daar is dae wanneer niks besonders gebeur nie. Geen groot nuus nie. Geen wonderlike verrassing nie. Net die gewone ritme van opstaan, koffie maak, werk, mense ontmoet, eet, rus.
Ons dink maklik dat God veral in die buitengewone teenwoordig is. Maar die Bybel leer ons om anders te kyk. Ons leer: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo.” Dit sluit die groot dinge in, maar ook die klein gawes wat so bekend geword het dat ons hulle nie meer raaksien nie.
Paulus herinner die Atheners: “In Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” Selfs ons gewone asemhaal gebeur binne God se genade.
Dink daaraan: hoeveel van wat jou vandag dra, het jy nie self gemaak nie? Die mense wat jou liefhet. Water. Lig. Kos. ’n Plek om te rus. ’n Stem wat jou naam ken.
Dankbaarheid begin soms wanneer die gewone weer vreemd genoeg word om oor verwonderd te wees.
Vandag hoef jy nie iets buitengewoons te soek nie.
Kyk na jou gewone dag asof jy hom vir die eerste keer sien.
Miskien wag God se goedheid nie êrens verder nie.
Miskien is dit reeds hier.
🔎 LEES VERDER: Jakobus 1:16-17 en Hand 17:22-31
Let veral op Paulus se woorde oor God wat naby is en oor ons hele bestaan.
🙏 GEBED
Here, vergewe my dat ek so maklik gewoond raak aan u gawes.
Leer my om die gewone nie as vanselfsprekend te aanvaar nie.
Laat my vandag iets van u goedheid raaksien in die dinge wat ek gewoonlik sommer net laat verbygaan.
👣 Uitdaging
Kies een gewone ding wat jy vandag verskeie kere gebruik of beleef.
Elke keer wanneer jy dit raakloop, sê stilweg:
“Ook hiervoor, Here.”
MÔRE SE TEMA: Mense wat in my lewe “geskryf” het
Word ‘n donateur om hierdie dagstukke te laat uitbou. [Bankbesonderhede: Standard Bank, Takkode 051001; Rek No: 080042805; RM BEZUIDENHOUT]
Nooi gerus vriende om ook daagliks die stukke te ontvang deur hul selnommers vir my aan te stuur.

