VASTE FONDAMENT 6 Jan (Maan.)

Afhangende van die vertaling wat jy gebruik is daar tussen 80 en 100 verwysings na fondamente in die Bybel, die meeste daarvan in die Ou Testament. Die meeste is verwysings na die fondament van die tempel, maar soms is die woord gebruik as beeldspraak. Die woord sou vele kere ook verwys na spirituele standvastigheid.

Lank voor die tempel se fondament vasgelê is het God reeds die aarde se fondament gevestig. Toe Job vrae aan God begin vra het, het God met ‘n teenvraag gekom: “Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?… Waarop is sy voetstukke neergesit?  Wie het hom aanmekaargesit? (Job 38:4-6). Anders as die terugkerende ballinge wat in ‘n loflied uitbars nadat die tempel se fondasie klaar herstel was (sien Esra 3:10 e.v.), hoor Job by God dat “die sterre saamgesing het  en al die hemelinge het gejubel” (Job 38:7).

Soms is die woord letterlik bedoel, soms as metafoor wat gesag of outoriteit beskryf.  So kan alles wat vas en stewig staan (selfs voete) as ‘n fondament beskou word. Die belangrikste is natuurlik God se woord: “Vir ewig, Here, staan u woord vas in die hemel. Van geslag tot geslag duur u trou … Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand…” (Ps 119:89-91). God is betroubaar; wat God sê en belowe is betroubaar:  “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig” (Jes 40:8).

In 1521 is Martin Luther in Worms, Duitsland, voor ‘n regsbank gebring waar hy van kettery beskuldig is. Hy kon bly lewe as hy sy standpunte terugtrek, andersins wag die dood op hom. Maar Luther kan nie omdraai nie. Sy beginsels is gegrond in God se woord alleen: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie. So help my God.”

En jóú fondament? Wat laat jou soos ‘n Luther sê, “Hier staan ek”?

 GEBED:  So help my, God, wys my wat vergaan en wat ewig is.

*************

MUSIEK:

Ons kyk na die musiek video van “Here I Stand” deur Gaither Vocal Band.

Die Gaither Vocal Band, gestig deur Bill Gaither, is ‘n bekende Amerikaanse Suidelike gospelgroep. Die groep het oorspronklik kontemporêre Christelike musiek in die 1980’s opgeneem, maar het na Suidelike gospel oorgeskakel met die sukses van die Gaither Homecoming videos. Gedurende die jare het lede soos Guy Penrod, Mark Lowry en David Phelps deel van die groep geword. Met 29 albums en talle toekennings, insluitend twee Grammys en 17 Dove-toekennings, bly die Gaither Vocal Band ‘n geliefde naam in gospelmusiek.

https://youtu.be/AIQLPgUmZzA?si=YX9msP650Wh_HBRY