Die Ou-Testamentiese skrywers was meesters met woordspel (wat ongelukkig vir ons verlore gaan, omdat ons nie die Hebreeus kan lees nie.) Gelukkig kan ons hul verbeeldingrykheid geniet. Soos Jesaja, wat vir die volk van God sê: “Julle is agterstevoor met alles, asof die pottebakker die klei is. … Die kleipot kan mos nie van die pottebakker sê: ‘Hy weet nie wat hy doen nie’” (Jes 29:16).
Ook is Jesaja die profeet wat etlike kere die woord “fondament” gebruik – wat ons soms effens anders vertaal, maar die betekenis bly dieselfde. Soos Jesaja 33:6: “Hy sal bestendigheid aan jou tye bied” (2020-vertaling), wat impliseer dat God betroubaar is en vertrou kan word. Die bekendste is seker die profesie van Jesaja 28:16: “So sê my Heer, die Here: ‘Kyk, Ek lê ‘n fondamentklip in Sion, ‘n uitgesoekte klip – ‘n kosbare hoeksteen as fondament gelê’” (2020-vertaling).
Hoe maklik kyk ons nie die woord mis nie. As ons herhaaldelik gesien het dat die “fondament” ‘n metafoor is om die standvastigheid en “vertroubaarheid” van God te beskryf, dan is die woord “kyk” belangrik. Gewoonlik is daar ‘n uitroepteken na die woord. Kýk! Dit is nie ‘n versoek nie; dit is ‘n opdrag. Maar ‘n desperate pleit. Soos een skrywer dit uitdruk: “Wanneer God hierdie woordjie gebruik, is dit asof God ons aan die kraag gryp, pleitend dat ons iets buitengewoon moet raaksien wat ons andersins gaan ignoreer.”
Dit is soos om te sê: “Wees verseker, vir seker gaan…” Meer as 1500 keer is dit God wat sê: “Kyk!” Dit is die woord wat ons vir vier weke in Adventstyd bedink: “Kyk!” Dit is die woord waaroor die Kersgety gaan.
Dalk is hierdie die woord wat ons in 2025 van nader moet leer ken. Kyk. Sien jy wat jy moet sien?
GEBED: Help my om nie op die verkeerde te fokus nie, maar my oog op U te hou. ——-
MUSIEK:
Ons luister na die lied “Op Vaste Fondamente ” deur S. J. Stone.
Uit die Liriek:
Op Vaste Fondamente Het God Sy Kerk Gebou,
Apostels En Profete Het Ons Dit Toevertrou:
Die Koning Van Die Hemel Herskep Deur Woord En Gees,
Verlorenes Op Aarde Dat Hul Sy Volk Kan Wees.
Hy Roep Uit Alle Volke ‘n Volk Vir Hom Tesaam,
Een In Geloof En Werke,een In Sy Heil’ge Naam!
Hy Gee Die Brood En Beker, Hy Gee Die Heil’ge Doop;
Om Hulle Te Verseker: Ek Het Jul Duur Gekoop!
Bedreig Gevaar Van Buite, Met Skerp Venyn Gemik;
Vul Twyfel Ons Van Binne Met Kleingeloof En Skrik –
Dis Eie Aan Die Wêreld, Ons Sal Verdrukking Hê,
Maar Christus Het Sy Bystand Aan Ons Hier Toegesê.