VASTE FONDAMENT 3-5 Jan (Naweek)

Op 8 Desember 1976 het ‘n reuse aardbewing Welkom (in die Vrystaat) getref. Ons skoolkinders is uit die klaskamers gejaag; rugbyveld toe. Almal was bleek geskrik. Nie baie ver daarvandaan het ‘n ses-verdieping woonstelgebou, Tempest Hof,  inmekaar gevou.  As 12-jarige was my vrees groot: as dit kan gebeur, waarom nie ook met ons huis nie?  Vir die eerste maal het ek daar geleer van stewige fondasies, goeie boumaterial, en bouregulasies. 

Ek wonder wat die mense daardie dag op die berg gedink het terwyl Jesus sy preek (in Matt 5-7) sluit met die beeld van een man wat sy huis op rotse bou, die ander een op sand. Baie van hierdie mense het Hom reeds van dorp tot dorp begin volg. Die getal sou groei soos hulle die pelgrimstog na Jerusalem onderneem vir Pasga. Min het die volgelinge besef dat die storms waarna Jesus verwys daar vir Hom sou voorlê. Meer nog, ook vir elke dissipel van Hom wag daar “allerhande beproewings” (1 Pet 1:6). Selfs vervolging!

Ons wil dit nie hoor nie. Ons hou van ‘n gemakstoel-geloof. Tog leer Jesus dat daar nie so iets  bestaan nie! Ook ons sal op paaie gebring word waar ons nie sal wil wees nie. Hoe gaan jy staande bly? Gaan jy ingee?  Gaan jy jou laat meesleur deur die krag van die stormwater? Wat sal die bron van jou innerlike krag wees? 

Vir Jesus is dit glashelder: nie almal wat Sy woorde aanhoor gaan dit enduit uitvoer nie. Die uitdagings gaan hulle oorweldig. Maar hulle wat “sy woorde hoor en daarvolgens handel” sal kan getuig: “Die Here is my rotsvesting; my God is die rots by wie ek skuil” (Psalm 18:3.)

GEBED: Dit is bevrydend om te weet dat dit nie ek moet wees wat sterk teen die storms moet staan nie, maar dat U die sterke is. Dankie dat ek by U kan skuil. En U my beskerm. 

———–

MUSIEK:

Ons kyk na die musiek video van “In die Hand van die Here” deur  Jan Neethling.