VASTE FONDAMENT 22 Jan (Woensdag)

Dit is vir my ‘n mooi uitdrukking: “Back to basics.” Dit is wat ons geloofsbelydenisse vir ons is: ‘n herinnering aan die “basics”. Volgens Albert Mohler “(Glo) alle Christene veel meer as net dit wat in die Apostoliese Geloofsbelydenis staan, maar niemand kan minder glo as wat daar staan nie.” Dit is ons “basics.”

Die kortste geloofsbelydenis in die Nuwe Testament kom uit Fil 2:11: “Jesus Christus is Here!” In Grieks is dit eenvoudig: “Kurios Iesous Christos” Om destyds, in die Grieks-Romeinse kultuur – waar net gode en keisers (heersers) “Kurios” genoem word – die term op Jesus toe te pas, was soos ‘n doodsvonnis. Dit was ‘n direkte opstand teen Rome! Die keiser is nie die regeerder nie; Jesus is. Alles van wie Jesus was, word in hierdie enkele woordjie saamgevat: Kurios. Niemand anders sal ek volg nie; net vir Jesus. Niks anders is my kompas nie, Jesus is.

In die vroeë kerk, soos vandag, beteken die belydenis “Jesus is Here” ‘n totale oorgawe aan Christus se gesag. Dit is die fondament waarop die Christelike geloof en lewe gebou word. Wanneer Petrus (in 1 Pet 3:15) skryf, “Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe”, dan is hierdie belydenis die antwoord. Jesus is ons Here. As ek selfs moet ly omdat ek die regte ding gedoen het (v14), en iemand vra, waarom doen ek dit, waarom kies ek nie die veiliger kant nie? Dan is daar net een antwoord: “Want, Jesus is my Here.”

Back to basics: is dit jou koersbepaler, dat Jesus jou Here is? Leef jy so?

GEBED: U is my Here! Help my om so te leef dat ander dit kan sien en ook kan glo.

MUSIEK:
‘n Gans anderse musikale verwerking van die Apostoliese Geloofsbegeleidenis word gesing deur die Lancaster Bible Colle Choral. Hierdie musiek kom uit die Gospel Mass, gekomponeer deur Robert Ray.