Ek het ‘n vriend met wie ek ure lank oor teologie kan gesels. Nee, ek moet dit korrigeer, vir ure aaneen stry ons! Hy wil my oortuig dat sy siening oor die Bybel korrek is. En natuurlik probeer ek hom korrigeer! Maar, al verskil ons soos dag en nag, weet ek een ding: Komende Sondag staan hy saam met my en die res van die gemeente en bely ons, sáám, ons geloof. Saam bely ons ons geloof in God Drie-Enig; saam bely ons ons geloof oor die kerk en die gemeenskap van gelowiges. Saam glo ons aan ‘n toekoms wat verseker is.
Dit laat my dink aan die Kerkvader, Irenaeus (3de eeu), wat gesê het, “Die Kerk, alhoewel dit oor die hele wêreld versprei is, selfs tot aan die uithoeke van die aarde, het hierdie geloof van die apostels en hul dissipels ontvang: die Geloofsbelydenis wat in die Skrif gevind word.” Sewe eeue nadat die geloofsbelydenisse geskryf is, staan Christene wêreldwyd op en sê hardop, Ek glo… Self hoor jy; die een voor en agter jou hoor ook, die een wat dalk in die straat verbystap, hoor ook. In kort: dit is wat ons glo!
Volgens Martin Luther is die Apostoliese Geloofsbelydenis “die fondament van die Christelike geloof, so opgesom dat selfs ‘n kind kan verstaan, maar ‘n leeftyd van meditasie daaroor sal nooit die diepte daarin kan uitput nie.”
Paulus gee aan die gemeente van Korinte ook ‘n opsomming as hy hulle herinner aan “die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. …Die belangrikste…, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf…” (1 Kor 15:2-3).
Met twaalf sinnetjies vat die geloofsbelydenis alles vas. Dit is ‘n herinnering vir nadenke. Dit is ‘n opsomming van wat aan ons verkondig is. Dalk is dit die eerste woorde wat ons moet opsê wanneer ons opstaan en voor ons gaan slaap. “Ek glo…”
GEBED: Dankie dat ek vandag, saam met miljoene gelowiges, deur die eeue, kan sê, “Ek glo…”
MUSIEK:
Vandag se musiek mag dalk vir sommige bietjie “swaar op die oor” wees; maar ter wille van diegene wat lief is vir kerkmusiek in die Christelik Ordokse tradisie. Hierdie lied is gekomponeer in die Russies-Ortodokse komponis, Alexander Gretchaninov (1864-1959).
Dit is bloot getiteld “Credo” is ‘n musikale verwerking van die Geloofsbelydenis van Nicea, wat reeds in die 4de eeu deur die kerk aanvaar is as een van die formele geloofsbelydenisse van die Christendom. So is dit steeds ook in ons Gereformeerde tradisie een van die geloofsbelydenisse wat gereeld in ons kerke bely word.
Die woorde van die belydenis is in die video in Engels bygevoeg.