VASTE FONDAMENT 23 Jan (Donderdag)

Een rede waarom die geloofsbelydenisse geskryf is (rondom die 3de en 4de eeu), was ter wille van die nuwe bekeerlinge. Hoe leer ‘n mens die geloofswaarhede ken as jy – anders as ons – nie self ‘n Bybel besit nie? Daarom is die belydenis uit die kop geleer en is dit meer as eenkeer per dag opgesê. Tom (N.T.) Wright som dit mooi op: Die funksie van ons belydenisse is die beginpunt van ‘n reis om God se koninkryk te verstaan. Tree-vir-tree verbind ons onsself aan ‘n geloof wat reeds eeue lank bestaan. Dit anker ons stewig in die Bybelse waarhede.

Die kortste geloofsbelydenis in die Ou Testament is hierdie een: “Die Here is ons God. Hy is ons enigste God.” Dit is Moses wat hier aan die woord is en met Israel praat: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here” (Deut 6:4). Maar, wat is die implikasies hiervan? Moses antwoord hierop: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag” (v5). Die probleem is dat ons dit vandag onthou, maar môre-oormôre alweer vergeet het. Maar hiervoor het Moses ook raad: “Hierdie gebooie … moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte” (v6-9).

Hierdie word die “Shema” genoem. (Dit is die Hebreeuse woord vir “luister”.) Die heel eerste woorde wat ‘n pasgebore Joodse baba hoor, is die Shema. Die heel laaste woorde voordat die sterwende sy asem uitblaas, is die Shema.

Jou lewe begin met ‘n belydenis en jou lewe eindig met ‘n belydenis: Daar is net één God, die lewende God.

GEBED: U is my Here. U is my God. Net U en U alleen.
MUSIEK:
Ons luister na ‘n verwerking van die Shema-gebed, gesing in Hebreeus (met Engelse onderskrifte). Ongelukkig is daar geen inligting wie die kunstenaars is wat dit uitvoer nie.