Die laaste woorde waarmee Vrydag se meditasie afgesluit het, was dat dit God se wil is dat ons geestelik sal groei – vaster in ons geloof, sterker in hoop, met dringender liefde, en groter afhanklikheid. Maar Petrus voeg een groeipunt by, wat ek onlangs eers raakgesien het. Nadat hy die gemeentes gewaarsku het dat valse leraars in hul midde mag wees, gee hy die volgende opdrag: “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Petrus 3:18).
Die Engelse alliterasie is vir my mooi: “Grow in grace.” Nie net moet ons in kennis toeneem nie, maar ook in genade. Om in genade te groei, beteken nie om méér genade van God te ontvang nie. God se genade neem nooit toe nie; dit is reeds oneindig. Soos God se liefde, kan genade nie meer word nie, maar ook nie minder nie. God is die genadige God. Maar om in genade te groei, is om die grootsheid van wie Jesus is, en wat Jesus gedoen het so in jou lewe te integreer, dat dit ook deel van jou eie aard en jou lewenswandel word.
Kennis – sê ons altyd – is mag. Om in kennis te groei, sonder dat genade toeneem, maak dalk van jou ‘n intellektuele reus. Maar dit is nie ons doelwit nie; ons doelwit vir geloofsgroei is dat die genade wat ons by God ontvang, meer en meer ook in ons eie lewens sal inslag vind.
Petrus sluit af: “Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid!” (v18b). En juis hierdie heerlikheid van Jesus (wie Hy is en wat Hy doen) is (aldus 2 Kor 3:18) die vorm waarin ons verander word “sodat ons aan die beeld van Christus gelyk word. Meer en meer straal dit uit ons uit.”
Dus, mag jy vandag groei in kennis, sowel as in genade!
GEBED: Meer en meer soos U – nie net wie U is nie, maar ook wat U gedoen het.
MUSIEK:
MUSIEK:
Ons kyk na Liriek video van “Amazing Grace” deur Wintley Phipps.
Amazing Grace is in 1772 geskryf deur John Newton, ’n voormalige slawehandelaar wat deur God se genade verander is. Die lied se melodie word dikwels met Afrika-Amerikaanse geestelike musiek verbind en dra ’n boodskap van hoop en volharding. Wintley Phipps beklemtoon hierdie geskiedenis in sy optredes en gee die lied nuwe diepte en betekenis.