Petrus sê dat daar in ons die smagting moet wees, soos pasgebore babatjies na hulle ma se melk smag, so moet ons smag daarna om te groei tot volwasse verlostes. (Sien 1 Pet 2:2, NLV). Dit is m.a.w. God se wil dat ons geestelik volwasse moet word, sodat ons al meer die “geestelike huis (word) waarin God woon” (aldus Ef 2:20-22). Sy einddoel vir ons is juis om “soos ‘n volgroeide mens (te word), so volmaak en volwasse soos Christus” (Ef 4:13).
Die teoloog, A.W. Tozer, het die proses van geestelike volwassewording so beskryf: “Die pad na geestelike volwassewording is deur ‘n konstante en ernstige begeerte na God se teenwoordigheid en Sy Woord.” Geestelike groei kom deur ‘n innerlike, voortdurende honger en dors na God. Net die Heilige Gees kan dit skenk, maar daar is twee “vonkproppe” wat die energie skep: God se Woord (waar jy God se wil leer ken) en God se mense (wat jou help om God se wil uit te leef).
John Stott sê: “Die Christelike gemeenskap is onontbeerlik vir geestelike groei, omdat dit in gemeenskap is waar ons mekaar kan aanmoedig om in genade te groei en die mense te wees wat God ons bedoel het om te wees.” Daar hou ons mekaar se arms hoog. Daar hou ons mekaar aanspreeklik. Daar leer ons om met onderskeidingsvermoë te leef. Daar word ons deur die volwasse gelowiges geïnspireer.
Moenie tevrede wees met ‘n geestelike lewe wat stagneer nie. Dit is juis God se wil dat jy as ‘n gelowige sal groei. Maak dit jou diepste hartsbegeerte dat God jou uit die strik van selftevredenheid uitlig. Van een ding kan jy seker wees – God wíl jou vandag anders hê as gister: vaster geloof; sterker hoop; dringender liefde; groter afhanklikheid.
GEBED: Verhoor my gebed, Here, en gee aan my geloof, hoop en liefde. In afhanklikheid bid ek dit van U.
MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van ” O Lord, Hear My Prayer ” deur Sunday 7pm Choir.
https://youtu.be/8BWKmahZgLM?si=1Io2oBCdxuiOzKnx
“O Lord, Hear My Prayer” is ’n eenvoudige, maar kragtige Taizé-lied wat Psalm 102 weerspieël. Die herhalende woorde skep ’n diep geestelike atmosfeer van gebed en vertroue:
” O Lord, Hear My Prayer “
Die lied nooi ons uit tot stilte en oorgawe, met ’n troosvolle herinnering aan God se getrouheid en nabyheid.