VASTE FONDAMENT 16 Jan (Dond)

Vir gelowiges is 1 Petrus 2 ‘n belangrike hoofstuk – dit help ons met die vraag, hoe groei ons: “Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. Julle het immers ondervind dat die Here goed is.” (1 Pet 2:2-3). Hoe? Hier is Stap 1: “Lê alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af.” Of soos The Message dit stel: “So clean house! Make a clean sweep…”

Hoe begin ‘n mens om geestelik te groei? Die “spinnerakke” in die hoeke van jou hart en jou gedagtes en jou lewe moet skoon kom. “Clean house!”

Dit is ook nie verniet dat Petrus dan die metafoor van ons lewens as die gebou van God voortsit nie. Direk daarna (v4) nooi hy ons uit: “Kom na Hom toe, die lewende steen … en laat julle ook soos lewende stene opbou.”

Soms word Jesus die fondament genoem: álles rus op Jesus. Soms word Jesus die hoeksteen genoem: die mure word reguit gehou omdat die hoeksteen nie mensgemaak is nie, maar deur God self gekap is. Maar die mooiste metafoor is dat Jesus “die lewende steen” is: ons lewe word nie net gebou op die kruisiging van Jesus alleen nie, maar op Sy opstanding! Hy leef! Hý dra die gewig, Hý hou alles in stand. Want, Hy leef!

Petrus haal Psalm 34:9 aan: “Kom ondervind en sien self dat die Here goed is! Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil.” Geloof in God gaan oor praktiese dinge. Proe. Ruik. Vat. Ervaar. Beleef self. Hoe meer jy ondervind, hoe meer wil jy daarvan beleef.

Mag jy self ervaar dat God – die Rots – skuilte bied. Mag jou smagting na geestelike groei toeneem. Mag die Lewende Steen jou regop hou.

GEBED: Gee aan my die inniger dors na U, Here.


MUSIEK:
Ons kyk na Musiek video van ” My Hope is Built on Nothing Less” deur van Fountainview Academy as deel van The Great Controversy.

“My Hope Is Built on Nothing Less,” geskryf deur Edward Mote in 1834, is ‘n geliefde gesang wat die vaste geloof in Jesus Christus as die hoeksteen van hoop beklemtoon. Robert Critchley het die lied gemoderniseer met vars musikale elemente, terwyl Fountainview Academy se uitvoering die klassieke en geestelike diepte van die lied bewaar met hul kenmerkende harmonieë en instrumentale begeleiding. Beide aanpassings bring die tydlose boodskap van hoop en geloof na moderne gehore.