Het jy al ‘n peuter tussen maatjies gesien, wat iets vasgryp en sê: “myne, myne!” Van peuters verwag ons dit nog, maar soms is daar volwassenes wat ook so wil leef. Dit is natuurlik waarom ons van ‘n “bekering” praat, wanneer iemand tot geloof kom. In plaas van “myne, myne” kom daar ‘n ganse ommekeer. Nou raak dit: “Syne! Syne!” In Gal 2:20 skryf Paulus: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” Ons middelpunt het verskuif. Dit gaan nou om Christus se begeertes, nie meer my eie nie. En wat is Christus se begeerte? Eintlik is dit baie eenvoudig: dat ons aan ander goed sal doen; hulle belange ook ons belange sal maak. Dit sal vir ons so belangrik word, dat ons selfs bereid sal wees om ter wille van ons roeping lyding daarvoor te verduur. Soos Petrus skryf: “Om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg” (1 Pet 2:20-21).
Die Christelike geloof gaan oor prysgawe: ons groei deur prys te gee. In Romeine 12:1 moedig Paulus die gelowiges aan: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.” Daar is Een wat Hom reeds as ‘n offer prysgegee het. Volg Sy voorbeeld. Niks wat van ons gevra word, is nie alreeds ook vir ons gedoen nie. Wanneer Petrus dus in 1 Pet 2:5 sê: “Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis”, het hy pas in die vorige vers reeds ook gesê: “Kom na Hom toe, die lewende steen” (v4).
Dit verdien om herhaal te word: Die Christelike geloof gaan oor prysgawe: ons groei deur prys te gee. Maar niks word van ons gevra wat nie reeds vir ons gegee is nie.
(Ons sit môre die gedagte van die lewende steen voort).
GEBED: Neem my as ‘n lewende steen, maak van my ‘n altaar waar ekself as offer ter wille van ander kan dien.
MUSIEK:
Ons kyk na Musiek video van “Herz und Herz vereint zusammen (EG 251)” deur Anonym.
Die lied “Herz und Herz vereint zusammen,” geskryf deur Nikolaus Ludwig Graf von Zinzendorf en gekomponeer deur Johann Sebastian Bach, is ‘n bekende kerklied wat diep gewortel is in die Christelike tradisie. Dit is veral bekend vir sy vele vertalings en aanpassings, wat getuig van die lied se universele boodskap van eenheid en liefde.
Oor die jare heen is die lied in baie tale vertaal en word dit wêreldwyd in verskillende kulture gesing. Hierdie veelvuldige vertalings het bygedra tot die lied se internasionale gewildheid, wat dit ‘n geliefde keuse maak tydens kerkdienste en geestelike byeenkomste. Die eenvoudige maar treffende melodie, saam met die innige lirieke, het dit ‘n blywende indruk in die geestelike musiekerfenis gelaat.