VASTE FONDAMENT 14 Jan (Dins)

In ons straat is ‘n nuwe woonhuis gebou. Dag na dag het die bouspan hul kruiwaens vol bakstene gelaai en stelselmatig het die mure hoër gerys. Eers nadat die laaste baksteen, saam met die dak en vensters, hul laaste staanplek gekry het, kon die sleutels oorhandig word. ‘n Droomhuis vir ‘n nuwe gesin in ‘n buurt om nuwe vriendskappe te ontwikkel.

Vir my is dit ‘n wonderlike metafoor waarmee Paulus ons – die gelowiges – vergelyk. “Julle is die gebou van God”, skryf Paulus aan die gemeente van Korinte (1 Kor 3:9b). Dieselfde herhaal Paulus aan die gemeente van Efese: “Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is” (Ef 2:20). En dit laat my weer aan die nuwe huis dink: Sonder die bakstene kan daar nie ‘n huis wees nie. Maar, ‘n hoop bakstene op ‘n leë erf maak ook nog nie ‘n huis nie! En dit is presies wat Paulus vir die gelowiges in Efese leer: eers as elkeen, Jood en nie-Jood, slaaf en slavin, man en vrou, hul plek kry, dan is ons saam “’n geestelike huis waarin God woon” (Ef 2:22). Eers dan “verrys (die bouwerk) tot ‘n heilige tempel vir die Here” (v21).

Dietrich Bonhoeffer het eenmaal gesê: “Die mens wat uitsluit, sal gemeenskap (“koinonia”) vernietig, maar die mens wat almal rondom hulle liefhet, sal gemeenskap bou.” Elke baksteen is nodig. So werk God se bouproses.

By God is daar nie sprake van elkeen op sy eie hopie nie; daar is by God geen status en belangrike posisie wat mense van mekaar kan onderskei nie. In God se gesin lyk dinge anders! Leef ons anders! Dink ons anders oor mekaar. Ons sien God in mekaar raak.

GEBED: Ek weet ek sluit mense uit, Here. Ek moet dit bely, want U wil dit nie so hê nie.


MUSIEK:
Ons kyk na Liriek video van ” UNDIVIDED” deur FBC CHOIR.

Melody Tunney is ‘n talentvolle liedjieskrywer en komponis, veral bekend vir haar werk in Christelike en inspirerende musiek. Een van haar bekende komposisies is die liedjie “Undivided,” wat sy saam met Jerry Twyford en Ron Kenoly geskryf het. Die lied dra ‘n kragtige boodskap oor eenheid en toewyding, en beklemtoon die belangrikheid daarvan om ‘n lewe te lei wat volkome aan God toegewy is. Tunney se vermoë om hartroerende lirieke met opbeurende melodieë te kombineer, het “Undivided” ‘n geliefde stuk in aanbiddingsomgewings gemaak, wat diep aanklank vind by gehore wat op soek is na geestelike verbondenheid en bemoediging