Net na nuwejaarsdag het ek en ‘n vriendin twee dae in ‘n houthut in die Tsitsikamma-woud gaan bly; gans afgesonder, met dennebome so ver soos die oog kan sien. Kinderstemme het ons soms herinner dat daar ook nog ander lewe in die omtes was, maar verder was dit net voëlgeselskap. Vroegaand, as die laaste voëlgesange stil raak, was dit tyd vir die krieke en die paddas se lofprysing. Dit was seker ‘n vreemde gesig om twee vroue, elkeen toegewikkel in ‘n kombers, laatnag op die grasperk te sien lê. Ons praat het dan al stiller geraak. Eers was dit net die sekelmaan en ‘n helder Venus wat bo ons verskyn het, maar algaande het die hemelruim bo ons verander tot ‘n sterre-skouspel.
Ek kan verstaan waarom mense in die Bybelse tyd geglo het die aarde staan op vier pilare. Rondom ons het satelliete met Kayalamispoed gejaag. Drie keer het ons gelyktydig uitgeroep: “Kyk … ‘n verskietende ster!” Ons stilswye was die applous; ons verwondering was ons woordlose gebede. “Hou ons tog hierdie nuwe jaar in U hand, so stewig soos U die kosmos in U hand hou. U is die standvastige en standhoudende terwyl alles rondom ons beweeg.”
Tog roep die Bybel ons op om ook standvastig te wees. In Spreuke 10:25 lees ons: “Wanneer ‘n storm verbytrek, is ‘n goddelose nie meer daar nie, maar ‘n regverdige is ‘n ewige fondament” (2020-vertaling). Die enigste rede waarom ons standvastig kan wees, is omdat ons – “die gebou van God” – gebou is op die “enigste stewige fondament: Jesus Christus” (aldus 1 Kor 3:9b-11). Daarom kan Paulus teen die einde van sy brief oor die verganklikheid van alles skryf, en steeds afsluit met ‘n oproep: “wees standvastig, onwankelbaar” (1 Kor 15:58).
Paalvas. Rotsvas. Bodemvas. So mag ons 2025 leef. Omdat ons van alle kante gestut word deur onwankelbare standvastigheid!
GEBED: As alles om my beweeg, dankie dat ek in U geplant is: U, die fondament.
—–
MUSIEK:
Ons kyk na Liriek video van “How Great Thou Art” deur Dutch Forward.
“How Great Thou Art” is ‘n Christelike gesang gebaseer op ‘n oorspronklike Sweedse gesang getiteld “O Store Gud”, geskryf in 1885 deur Carl Boberg (1859–1940). Die Engelse weergawe van die gesang en die titel is ‘n los vertaling deur die Engelse sendeling Stuart K. Hine in 1949. Die gesang is deur George Beverly Shea en Cliff Barrows tydens Billy Graham se veldtogte gewild gemaak. Dit is deur die Britse publiek as hul gunsteling gesang aangewys in BBC se Songs of Praise. “How Great Thou Art” is tweede geplaas (na “Amazing Grace”) op ‘n lys van gunsteling gesange van alle tye in ‘n opname deur Christianity Today-tydskrif in 2001 en in ‘n nasionale meningspeiling deur Songs of Praise in 2019.