“Maak die slap hande sterk, versterk die wankelende knieë. Sê vir dié wat angstig is: ‘Hou moed, moenie bang wees nie! Kyk, hier is julle God’” (Jes 35:3-4a; 2020-vert).
Ek wonder of jy die antwoord kan onthou van hierdie vraag: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” Dalk het jy laas in jou katkisasieklasse die vraag gehoor. Maar, die antwoord uit die Heidelbergse Kategismus (HK) is sekerlik die enigste versekering wat ons nodig het vir die hele jaar wat vandag wyd voor ons uitstrek:
“Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.
Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die bose verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.
Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”
Ek weet dat daar dinge in hierdie jaar met ons kan gebeure wat ons fondasies mag skud. Dit is juis met die oog daarop dat ek hierdie antwoord uit my kop wil ken. Selfs sou iemand my in die nag wakker maak, wil ek kan antwoord, “My enigste troos in lewe en in sterwe is…”
Dit is hierdie antwoord wat my die jaar met blymoedigheid tegemoet laat gaan. Met sterk hande; stewige tree; moedig. Want ek weet: in lewe en in sterwe het ek ‘n beskermer en begeleier; ‘n verlosser en ‘n voorsiener.
GEBED: Mag U dit bewerk dat my vertroue en geloof in U steeds dieper groei.
*********
JANUARIE-MUSIEK
Daar is pragtige musiekverwerkings en -uitvoerings oot die tema #VASTE FONDAMENTE. Sommige word deur massakore gesing, sommige deur acapella-groepe. Soms sal die lied dieselfde wees, net die uitvoerder daarvan sal verskil, omdat elkeen ‘n unieke interpretasie gee.
Hierdie opname is deur Sovereign Grace Music.