Vir meer as ‘n week, sedert ek 1 Januarie se meditasie geskryf het, staan my rekenaar net op die tafel. ‘n Donker gordyn het oor my gemoed gesak. Iemand baie na aan my se lewe het in een oomblik van lig na donker verander. Vir hom het aangebreek wat die priester, Johannes van die kruis (uit die 16de eeu) sou noem: “Die Donker Nag van die Siel”. En ek treur saam.
Terwyl ek vroeg in Desember reeds aan die Januarie-tema beplan het, het #VASTE FONDAMENTE reg geklink. (Laat ek net erken, van die Heidelbergse Kategismus was daar geen sprake!) 2025 kan maar kom. Ons sal staande bly. Ons staan op #VASTE FONDAMENTE.
En toe sluit 2024 vir my op ‘n mineur noot af. En 2025 is kleurloos. En hier pop die vraag – sommer net so – by my op: “Wat is ons enigste troos?” (HK 1). Is hierdie troos (m.a.w. versterking) regtig al wat ons nodig het? Terwyl dit goed gaan, is dit maklik. Maar as dit sleg gaan? Regtig?
Ek het nie besef hoe nodig hierdie tema #VASTE FONDAMENTE vir myself gaan wees nie. En vir elkeen wat “Die Donker Nag van die Siel” ken. Hoe ouer ons word, hoe meer weet ons, ons is breekbare kleipotte. Maar, Soli Deo Gloria, ons enigste troos in lewe en in dood is dat die krag wat ons staande hou nie van onsself kom nie, maar dat dit die krag van God is wat in ons werk. (Aldus 2 Kor 4:7). Soli Deo Gloria, die fondament se vastigheid hang nie van ons af nie; maar van God wat die rots is.
Daarom kan ons vir mekaar ‘n mooi jaar toewens – wetend dit gaan allesomsluitend wees. Daar gaan vreugde en verdriet wees; verwondering en verwondheid. Maar, ons het ‘n standvastige fondament. ‘n Verlosser en Vertrooster!
GEBED: U is die kragtige. U is die fondament. U is my enigste troos.
*************
MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van “Within Our Darkest Night” deur Grace Presbyterian Church.
Die Taizé Gemeenskap het die lied “Within Our Darkest Night” geskryf as ‘n bron van hoop vir diegene wat deur moeilike tye gaan. Die lied se eenvoudige maar kragtige melodie spreek van ‘n lig wat God in die donkerste oomblikke aansteek—’n lig wat nie ooit gedoof kan word nie. Hierdie lig, wat God se genade, liefde en teenwoordigheid verteenwoordig, dien as ‘n vaste fondament om ons deur die duisternis te lei en te versterk.