KERSGETY – DAG 1

KERSGETY – DAG 1
KERSDAG, 25 DES


Vir die Kersgety gaan ek tot 31 Desember vir jou daagliks net ‘n gebed en ‘n musiekvideo stuur. Dit gee my en my span ook kans om net ‘n kort asempie te skep.
Mag dit vir jou en jou gesin ‘n geseënde Kersfees wees.


U koms as ‘n mens – een soos ons – is nie ‘n geboorte wat ons jaarliks vier met ‘n kersie op ‘n koek nie.
Dit is ‘n geboorte van Goddelike liefde wat ‘n onblusbare lig vir die wêreld gebring het.
U geboorte is aangekondig, eens in ‘n Betlehemnag, met die encore van engele wat steeds nog nooit stilgeraak het nie; terwyl die mensdom steeds poog om die lied van halleluja’s te doof met geraas.

Steeds kom U, ook op hierdie oomblik, ‘n uitbarsting van heiligheid, om met goddelike liefde die aarde en al sy mense te omhels.
Steeds sing die engele: “vrede op aarde”.

Uit die skatikis van U goedheid deel U – oorvloediglik – aan ons U gawes.
Nie in blink papier toegedraai, maar:
liefde en vreugde
vergifnis en genade
toegang tot die Vader.

Môre wil ek steeds vandag vier.
Omdat U gister en vandag en môre steeds dieselfde is en sal bly:
Immanuel.

MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van “Cantique de Noel” deur Oscar’s Motet Choir.
https://youtu.be/4dvfgKESSH4?si=uZF5Br65lmROxejL
Oscar se Motetkoor, wat in 1962 deur Torsten Nilsson gestig is, was ‘n invloedryke koorensemble gebaseer in die Oscar-kerk. Die koor was tot 1982 aktief en het nie net plaaslik opgetree nie, maar ook internasionaal getoer en op radiouitsendings verskyn. Hul uitmuntendheid het verskeie komponiste, insluitend Karl-Erik Welin en Werner Jacob, geïnspireer om spesifiek musiek vir die groep te skryf.