Die Gees: Gesondmaker
Die kernboodskap van die Christelike geloof is dit: God het ons geskep as lewende wesens (sien #SV 1). Maar hierdie lewe is deur 'n ongeneeslike virus – sonde – besmet. Eens lewende wesens het wandelende lyke geword. Dit is die tragiese realiteit van ons bestaan buite God.
Tussen al hierdie wandelende lyke het 'n Man uitgeroep: “Ek is die Lewe!” (Johannes 14:6). Wandelende lyke kan egter nie hul eie virus genees nie. Hier tree God se wonderwerk in: die virus word vernietig. Elke "wandelende lyk" wat soos Jesus wil leef, ontvang Sy Gees; bykans soos 'n Goddelike entstof. En eens wandelende lyke word herstel as lewende wesens. Presies soos 2 Korintiërs 3:18 dit stel: _“… Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is_ .” Die wesensaard van Jesus reflekteer daagliks, meer-en-meer, in hulle wat hernu is as lewende wesens.
Dít is die werk van die Gees. Hy maak ons elke dag gesonder.
ANKERGEDAGTE: Die Gees transformeer ons daagliks:van simptome van die dood na die volheid van Christus se lewe.
Gebed: Maak my elke dag gesonder, sodat ek al meer U beeld mag reflekteer en die Lewe self kan weerspieël.
DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Lees Galasiërs 5:16-25 en 2 Korintiërs 3:17-18 . Dink na oor die kontras tussen die “werke van die vlees” en die “vrug van die Gees”. Hoe kan jy bewustelik die Gees toelaat om in daardie spesifieke area van jou lewe te werk, en sodoende die virus se greep verder te verbreek?
Kruisverwysings vir verdere studie:
- Johannes 10:10: “’n Dief kom net steel en slag en verwoes; Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
- Romeine 6:4: “Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die wonderbaarlike krag van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei.”
- Efesiërs 2:1-5: “Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes… maar God, wat ryk is aan barmhartigheid, het ons deur sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam met Christus lewend gemaak, al was ons dood as gevolg van ons oortredings.”
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Vandag se musiekkeuse is ‘n toonsetting van die bekende gebed van die Kerkvader Augustinus: tot die Heilige Gees – gesing deur die liedjieskrywer en musikant, Francesca LaRosa.

