Die Gees: Drywer Van Nuwe Denke
Klink hierdie vrae bekend:
Wie is teen my, en hoe verdedig ek myself?
Gaan ek genoeg hê om van te leef?
Hoe beskerm ek my besittings?
Wat moet ek doen om aanvaarbaar te wees?
Wat as ek nie is nie?
Hierdie gedagtes (en nog baie meer) is die drywer van ons dade; ons doen wat ons dink.
Maar die opdrag is: “ _Julle moenie aan hierdie wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe_ ” (Rom 12:1-3). Dit is die kern! 'n Verandering in ons lewenstyl begin inderdaad by die verandering van ons denke. As ons God se wil wil doen, moet ons God se wil bedink.
Sonder die vernuwing van ons gedagtes is ons soos 'n sneltrein sonder 'n drywer, wat op hol gaan, weg van God se doel.
Die Heilige Gees is die Drywer wat hierdie sneltrein van ons gedagtes oorneem, dit van die wêreld se spoor afhaal en op God se spoor plaas. Wanneer ons toelaat dat die Gees ons gedagtes vorm, word ons denke algaande dié van Christus.
ANKERGEDAGTE: Met die Gees in beheer van jou denke, vervang God vrees met Christusvrede en onderskeidingsvermoë.
Gebed : Heilige Gees, ek oorhandig my gedagtes aan U. Vernuwe my denke en leer my om soos Christus te dink.
DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Lees Romeine 12:1-3 en Filippense 4:7-8. Neem ‘n oomblik om stil te word en jou gedagtes te ondersoek. Identifiseer een spesifieke negatiewe gedagtepatroon wat jou gedagtes tans oorheers en doen dan dit wat hierdie teksverse jou leer.
Kruisverwysings vir verdere studie:
- Filippense 2:5: “Dieselfde gesindheid wat daar by Christus Jesus was, moet daar ook by julle wees.”
- Efesiërs 4:23-24: “Julle gees en gedagtes moet nuut word; trek die nuwe mens aan wat in ware regtigheid en heiligheid na die beeld van God geskep is.”
- 1 Korintiërs 2:16: “Wie ken dan die gedagtes van die Here sodat hy Hom sou kon onderrig? Ons het die gedagtes van Christus!”
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Thomas Muglia, ‘n jong liriekskrywer en musiekleier uit die VSA, het hierdie lied “ A litany of humility ” geskryf. Dit is ‘n lieflike kontemplatiewe gebed dat Jesus die “ou” manier van dink sal vernuwe.

