DIE GEES: KRAG VIR DIE SWAKSTES
Ons is geneig om ons swakhede te verbloem, te ontken of daarvan weg te hardloop. En tog is dit in ons swakheid waar God Sy krag die meeste laat skyn. Soos Paulus van God getuig: “ _(Sy) genade is vir jou genoeg. (Sy) krag word juis tot volle werking wanneer jy swak is…_ (2 Kor 12:9). Ons onvermoë word die werksruimte vir die Heilige Gees se krag.
Die Heilige Gees kom nie ons swakhede vul sodat ons onafhanklik en sterk kan wees nie. Die Gees wil juis in ons 'n al groter afhanklikheid van God bewerk. Jesus het gesê: "Sonder My kan julle niks doen nie" (Johannes 15:5). In plaas van moedeloos raak oor ons swakhede, lê jou swakheid voor God neer. In plaas van tou opgooi, bid vir geestelike veerkragtigheid. In plaas van ons swakhede te ontken, waarom nie eerder 'n dieper vertroue in God erken nie?
Wanneer ons die diepte van ons menslike beperkinge bely, dan kan die onbeperkte krag van God deur ons begin werk.
ANKERGEDAGTE: Geesgevulde swakheid ontsluit God se onbeperkte krag.
Gebed: Heilige Gees, ek lê my swakhede voor U neer. Gebruik my gebreke, sodat Christus deur my kan skyn.
DEEL B (vir diegene met meer tyd ):
Lees die hele gedeelte van 2 Korintiërs 12:1-10 . Dink na oor jou eie “doring in die vlees” – daardie aanhoudende swakheid of uitdaging. Hoe kan jy ‘n houding van “behae” daarin vind, nie uit masochisme nie, maar uit ‘n dieper vertroue op God se krag wat daarin volbring word?
Kruisverwysings vir verdere studie:
- Filippense 4:13 : “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
- Johannes 15:5 : “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra veel vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.”
- Romeine 5:3-5: “En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid bewerk, en die lydsaamheid beproefdheid, en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG :
‘n Bekende Nederlandse sopraan, Mirjam Feijer, sing ‘n
bekende kerklied:”‘ Heilige Geest van God’ tydens een van die gewilde Nederland Zingt-aande.
https://youtu.be/DNSV4UOWK5k?si=u6Ic0Ch4qlxJxhvD

