SPIRITUS VIVUS #7 (10 Junie )

DIE GEES: VREDE-ANKER VIR DIE STORMS

 Chaos is 'n konstante realiteit in hierdie lewe: oorloë, vyandskap, wedywering, swaarkry, onreg, vernietiging. Wanneer Jesus die belofte van vrede maak, is dit nie ‘n probleemlose lewe wat ons inwag nie. Geloof in Christus impliseer dan selfs lyding! Maar, wat beloof word, is ‘n sielskalmte, ongeag die tierende lewenstorme. Jesus het self gesê: “ _Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek aan julle. …_ ” (Johannes 14:27). Daarvoor is die Heilige Gees uitgestort – om:
  • ‘n bonatuurlike kalmte te skenk, selfs in die oog van die storm.
  • ons te herinner aan God se getrouheid en onveranderlike liefde te midde van die onsekere en die vreesaanjaende.
  • ons te help om ons fokus weg te draai van dreigende omstandighede na die ewige teenwoordigheid van Christus.
  • ‘n standvastige kalmte in jou te laat om helder te dink en met geloof op te tree, selfs wanneer alles om jou tuimel.
    Dit is hoe die “vrede wat verstand te bowe gaan” oor jou lewe kan seëvier.

ANKERGEDAGTE: Die Gees anker God se onwrikbare vrede stewig in ons, selfs te midde van lewensorkane.

Gebed : Heilige Gees, ek nooi U in die chaos van my omstandighede en bid dat my siel tot rus kan kom in U teenwoordigheid.


DEEL B – vir diegene met meer tyd:

Lees Johannes 14:15-31 . Dink aan ‘n huidige situasie in jou lewe wat onrustigheid veroorsaak. Hoe kan jy bewustelik jou hart en gedagtes oorgee aan die Gees, sodat Hy Sy vrede in daardie spesifieke situasie kan vestig?
Kruisverwysings vir verdere studie:
Filippense 4:6-7 : “Moenie oor iets besorg wees nie…”
Psalm 29:11: “Die Here gee sy volk krag; die Here seën sy volk met vrede.”
Jesaja 26:3: “U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.”

MUSIEKKEUSE VIR VANDAG :

Ek het nog nooit voorheen hierdie Suid-Afrikaanse sanger teëgekom nie. Hy is bloot bekend as “Wynand” – een van die lede van die Koor van die Nuwe Apostoliese Geloofsgemeenskap. Hier sing hy ‘n acapella-lied, genaamd “ Dan is my God altyd daar .”