SPIRITUS VIVUS #6 (9 Junie)

DIE GEES: ONS GEBED SE HARTSLAG

 Soms voel gebed so natuurlik soos asemhaal. Ander kere ontbreek woorde ons geheel en al. Maar, Romeine 8:26-27 verseker ons: “ _Ons weet nie wat ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met onuitspreeklike sugte_ .”
 Die Gees is dáár, en Hy neem ons onvermoë om te bid, ons onkunde oor God se wil, en selfs ons frustrasie, en vertaal dit in volmaakte gebede voor die Vader. Ons gebedslewe hang dus nie van ons eie welsprekendheid af nie! Wanneer ons op ons knieë gaan, oorweldig deur die lewe se eise of pyn, is die Gees reeds aktief besig om ons harte se diepste verlange na die troon van genade te kanaliseer. Judas, Jakobus se broer, herinner ons om onsself in geloof op te bou “ _en in die Heilige Gees te bid_ " (Judas 1:20). Dit is die Gees wat ons opbou en ons in lyn met God se wil laat leef en bid. 
 Waarlik, sonder die Gees gebeur niks!

ANKERGEDAGTE: Die Gees vertaal jou stameling tot die volmaakte gebed voor God.

Gebed: Heilige Gees, ek erken my swakheid in gebed. Dankie dat U vir my intree.


DEEL B (vir diegene met meer tyd):

Lees die hele Romeine 8 . Wat is al die take van die Heilige Gees? Dink aan ‘n tyd toe jy nie geweet het hoe of waarvoor om te bid nie. Hoe het jy die Gees se teenwoordigheid ervaar, selfs sonder woorde?
Kruisverwysings vir verdere studie:

  • Judas 1:20-21 : “Maar julle, geliefdes, bou julleself op in jul allerheiligste geloof en bid in die Heilige Gees.”
  • Efesiërs 6:18: “Bid altyd met alle gebed en smeking in die Gees, en waak daartoe met alle volharding en smeking vir al die heiliges.”
  • Sagaria 12:10 : Hierdie teks beskryf hoe God die Gees van genade en smekinge uitstort, wat mense in staat stel tot diepe berou en ware gebed.

MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:

Uit die Ortodokse tradisie kom ‘n eeu-oue lied: “O heavenly King” wat gebruiklik tydens Pinkstertyd gesing word. Hierdie musiekstyl is dalk vreemd op sommige moderne ore, maar dit is ‘n verblydende gedagte om te besef hoeveel gelowiges, eeue lank reeds hierdie woorde saam sing het. Die lirieke verskyn in die video, en hoe meer jy luister, hoe gemakliker kan jy saam neurie.