Die Gees: Verander dagtake na roeping
Is jou dagtake bloot 'n middel tot 'n doel, of ontdek jy daarin 'n plek waar die Heilige Gees aktief deur jou werk? Die Bybel leer dat elke taak, hoe nederig ook al, met toewyding en uitnemendheid verrig kan word. Kolossense 3:23-24 moedig ons aan: “ _Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here, en nie vir mense nie… want julle dien die Here Christus._ ”
Dit is die Gees wat kreatiwiteit vrylaat in die kunstenaar, insig gee aan die denker, geduld aan die onderwyser, toewyding aan die dienswerker, en integriteit aan die sakepersoon. Die Gees verander 'n werk in 'n roeping, want, in alles moet ons “ _met gewilligheid dien, soos vir die Here en nie vir mense nie_ ” (Efesiërs 6:7). Dit is die Gees wat ons doen en late van 'n blote taak na 'n daad van aanbidding verander, want dan ontdek ons dat ons werklike beloning nie in 'n salaris of menslike lof lê nie, maar in die wete dat ons die Here Christus dien met alles wat ons doen.
*ANKERGEDAGTE: Elke taak, deur die Gees gedoen, is 'n daad van aanbidding* .
Gebed: Heilige Gees, kom vul my met u krag en wysheid in my werk. Help my om alles wat ek doen, met uitnemendheid en tot U eer te verrig, asof ek U direk dien.
DEEL B (vir diegene met meer tyd) :
Lees Kolossense 3:17-25 saam met Efesiërs 6:7-8 . Dink aan jou huidige verantwoordelikhede. Wat kan verander sodat alles vir jou ‘n “daad van aanbidding” word?
Kruisverwysings vir verdere studie :
- 1 Korintiërs 10:31 : “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot verheerliking van God.”
- Eksodus 31:3-5: Hierdie verse wys hoe die Gees selfs vakmanskap inspireer.
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Die Afrikaanse Kerklied, “ Neem my lewe ” is uiters geskik vir hierdie meditasie. Hier word dit deur ‘n massakoor saam met die Kaapse Filharmoniese orkes uitgevoer, o.l.v. Chad Hendricks.

