Die Gees: bekleedsel van my siel
Ons geestelike volwassenheid word in ons verhoudingslewe getoets. Dis maklik om God lief te hê as jy alleen in jou binnekamer is, maar wat van die kollega wat irriteer, die familielid wat jou seermaak, of die vriend wie se tekortkominge jou geduld beproef? Tog is dit juis in ons menslike interaksie waar ons die werksaamhede van die Heilige Gees die helderste sien. Waar die Gees vrylik in ons vloei, leer ons om lief te hê soos Christus.
Die Bybel leer dat “ die vrug van die Gees liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing is ” (Galasiërs 5:22-23). Dit is nie 'n lys van eienskappe wat ons met wilskrag moet probeer kweek nie, maar die uitkoms van 'n lewe wat deur die Gees beheer word.
Maak vandag die “klerekas van jou lewe” se deure oop; watter kledingstukke hang daar? Paulus skryf, “ Beklee julle met innige meegevoel, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld… en bo dit alles die liefde ” (Kolossense 3:12,14 - 1953). Is dit die “kledingstukke” waarmee jy jou vandag beklee in jou verhoudings met mense?
*ANKERGEDAGTE: Die Gees se teenwoordigheid skyn die helderste waar mense mekaar se lewens aanraak* .
Gebed : Heilige Gees, help my om U vrug in my verhoudings sigbaar te maak.
DEEL B – vir diegene met meer tyd:
Lees Galasiërs 5:13-26 en Kolossense 3:12-14 . Dink aan ‘n spesifieke verhouding wat tans ‘n uitdaging bied. Hoe kan jy jou aan die Gees oorgee om met die vrug te triomfeer?
Kruisverwysings vir verdere studie :
• Efesiërs 4:31-32: “Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar, soos God ook in Christus julle vergewe het.”
• Johannes 13:34-35: “‘n Nuwe gebod gee Ek julle, ….”
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Uit die Liedboek van die Kerk kom die bekende “ Gees van God ”. Die NG Gemeente Elarduspark se musiekbegeleidingsgroep bied vandag se lied vir ons aan.

