SPIRITUS VIVUS #3 (4 Junie)

DIE GEES – ONS LEWENSGIDS
“ Die Heilige Gees het hulle verhinder… die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.” (Handelinge 16:6-7)

Gister het ons gesels oor die Gees se fluistering in besluitneming. Maar hoe hoor ons daardie fluisteringe, prakties gesproke? Hoe weet ons dit is die Gees, en nie ons eie geraas nie? Om die Gees se leiding te onderskei, vra ‘n paar sleutel-dissiplines:

  1. Stilte en Gebed: Maak tyd. In die stilte, deur oorgegewe gebed, begin die Gees ons gedagtes orden en helderheid bring.
  2. Die Woord van God : Die Bybel is God se spreekbuis, en dit is die werk van die Gees om die Skrif te verander tot ‘n lewende Stem. Die Gees sal nooit teen God se Woord indruis nie. Deur die Skrif te bestudeer, leer ons Sy hart en wil ken.
  3. Innerlike Vrede: Die Gees bring dikwels ‘n diep vrede wanneer ons op die regte pad is. ‘n Gebrek aan vrede kan ‘n waarskuwingsteken wees.
  4. Geloof en Gehoorsaamheid : Die Gees lei ons stappie-vir-stappie. Elke gehoorsame stap open die pad vir die volgende. Ons moet gewillig wees om te volg, selfs al is die pad onduidelik.

*ANKERGEDAGTE: Die Gees se leiding is 'n stille taal; kweek 'n luisterende hart.*

Gebed: Heilige Gees, leer my om U stem te leer ken. Leer my om te luister.


DEEL B (vir diegene met meer tyd):

Lees Handelinge 16:6-10. Let op hoe die Gees se leiding soms “nee” en soms “ja” is. Dink na oor ‘n tyd in jou eie lewe waar ‘n geslote deur jou uiteindelik na God se beste gelei het.
Kruisverwysings vir verdere studie:

  • Spreuke 3:5-6: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insig staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.”
  • Psalm 32:8: “Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet gaan; Ek wil jou raad gee; my oog sal op jou wees.”
  • Johannes 14:26: “Maar die Voorspraak, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Die bekende Tabernakelkoor van “Temple Square” sing vandag se lied: “ Spirit of God ”. Die lirieke is geskryf deur die bekende William Phelps.
https://youtu.be/608cbv7Qe_A?si=INhM8Ua8V8t2APXa