SPIRITUS VIVUS #2 (3 Junie)

GEES IN DIE STILTE

Hoe herken ‘n mens – tussen al die geraas van ons lewens – God se stem? Leer by Elia: die vlugtende profeet voor ‘n wraaksugtige koningin (in 1 Konings 19). God sou op ‘n buitegewone manier moes praat om hom tot bedaring te bring. Dalk met ‘n stormwind? Vlamme? Aardbewing? Die indrukwekkende? Maar God is anders. God verskyn in die “fluistering in die windstilte” (v12).
Ja, natuurlik kan God ons te midde van ‘n groot skare ontmoet, en die Gees kan selfs kom soos ‘n geweldige rukwind (Handelinge 2:2). Die Heilige Gees is die Een wat ons gees sensitief maak vir hierdie ontmoetings. Maar dikwels vra ‘n ontmoeting met God van ons om ons “innerlike geraas” tot bedaring te laat kom.
Dit is in daardie oomblikke van innerlike stilte dat die Gees jou gedagtes kan orden, jou hart kan kalmeer, en jou die vrede kan gee om God se stem duidelik te hoor, selfs oor die gewone dag se gedruis.

ANKERGEDAGTE: Dit is nie die Gees wat stil is nie; dit is óns wat stil moet raak .

Gebed : Heilige Gees, help my om lief te word vir luister, sodat ek U stem kan hoor.


DEEL B – vir diegene met meer tyd:

Lees 1 Konings 19:11-13 en Handelinge 2:1-4: Die dissipels was biddend; Elia sou moes stil raak om te kan hoor – wat leer jy daaruit?
Kruisverwysings vir verdere studie:

  • Psalm 46:10 : “Wees stil en weet: Ek is God! Ek sal hoog bo die nasies verhewe wees, hoog bo die aarde.”
  • Psalm 27:8: “Van U sê my hart: ‘Soek my aangesig!’ U aangesig, HERE, sal ek soek.”
  • Johannes 10:27: “My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My.”

MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:

Die “Veni Creator Spiritus ” is ‘n ou Latynse lied oor die Heilige Gees. Dit is in die 9de eeu deur ‘n monnik genaamd St. Rabanus Maurus geskryf. Die Engelse lirieke verskyn in die video.
Die groep Harpa Dei bestaan uit ‘n broer en sy drie susters wat in Duitsland gebore is, maar as kinders grootgeword het in Equador. Hulle beskou hul werk as ‘n manier om God te verheerlik en mense deur musiek met Hom in aanraking te bring.