SPIRITUS VIVUS #21 (naweeknadenke )

Die Gees: Geanker in die ewigheid .

  In elke mens leef 'n verlange wat nie met besittings, prestasies of selfs die mooiste verhoudings stilgemaak kan word nie. Dis ’n hunkering na meer – iets wat nie vergaan nie. ’n Woordelose verlange. 
  Die Heilige Gees is God se antwoord op al daardie verlange. Hy is nie net ons Trooster vir vandag nie – Hy is die waarborg van wat kom. Efesiërs 1:14 noem Hom “ _die waarborg van ons erfdeel_ ”. Ons deposito-versekering. Die Gees is dus soos ’n proesel – net genoeg - van die feesmaal (waarvan Ps 23:6 praat).

Paulus bid in Romeine 15:13: “ Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees .”
Die Gees bring nie net hoop vir vandag nie – Hy plant alreeds iets van die ewige vreugde in ons harte.

ANKERGEDAGTE: Jy hoef nie vir “eendag” te wag nie - die hemelse is reeds joune

Gebed: Heilige Gees, dankie dat U die ewige in my hart plant en my hoop vir die toekoms versterk, selfs nou al.


DEEL B (vir diegene met meer tyd):

Lees Efesiërs 1:13-14 en Titus 2:13. Dink na oor die implikasie van die Heilige Gees wat as ‘n “waarborg” dien. Hoe beïnvloed dit jou daaglikse lewe en jou siening van die toekoms?
Kruisverwysings vir verdere studie :

  • Psalm 23 – beide as ‘n toekomslied, en ‘n hedelied.
  • 2 Korintiërs 1:21-22 : “God is die een wat ons saam met julle vas anker in Christus. Hy het ons gesalf en sy seël op ons geplaas, en Hy het die Gees in ons harte gegee as ‘n waarborg.”
  • Johannes 14:1-3 : “Laat julle hart nie ontsteld word nie. Glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings. As dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei. En as Ek gegaan het en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook mag wees waar Ek is.”
  • 1 Petrus 1:3-5: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot barmhartigheid het Hy ons die nuwe lewe geskenk en ons deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood nuwe hoop gegee. So het ons ‘n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel vir julle in stand gehou word.”

MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Vandag se musiekkeuse is ‘n verrassende verwerking deur die bekende Bobby McFerrin. Hy dra die Psalm 23 aan sy oorlede ma op. Ons luister na die “UWF Singers” (Die Universiteitskoor, o.l.v. Peter Steenblik). Dit is werklik musiek waarna jy luister met toe oë. En sy aanspreekvorm van God bring ‘n nuwe perspektief op die versorging van God.