*SPIRITUS VIVUS #1 (2 Junie)*

*HEMELSE ASEM*

‘n Gejaagde lewe laat ons maklik voel asof God ver is, selfs afwesig. Maar die waarheid is, God is so teenwoordig soos ‘n asemteug. Genesis 2:7 leer dat God uit die mees gewone – die stof van die aarde – “ _lewensasem in die mens se neus blaas sodat die mens ‘n lewende wese geword het._ ” Net soos Jesus (in Joh 20:22) sy asem oor die apostels blaas en sê, _“Ontvang die Heilige Gees!_ ” God se krag – gegee vir gewone mense.

Uit die gewone (stof) word die buitengewone (‘n lewende wese) gebore. Presies dit is die werk van God se Gees: gewone, alledaagse mense begin buitengewone dinge doen. Gewone mense word getuies van God se immer-teenwoordigheid. Gewone mense wat anders begin leef – dit is God se bemarkingsmodel.

Weet dus, midde-in die sleur van jou gewone lewe daar vind jy die volle teenwoordigheid van die Heilige Gees. Nie in enkelvoudige maat nie, maar in volle maat! Sy Gees deurspek jou hele wese en heilig elke (gewone) oomblik.

> `ANKERGEDAGTE: Jou gewone dag, met al sy gewone uitdagings, is die plek waar God se Gees ten volle tuis is` .

*Gebed:* Heilige Gees, dankie dat U my lewensasem is, die betekenis bring in my gewone dag.

***************************************************************

*DEEL B – vir diegene met meer tyd:*

Lees *Genesis 2:7* en *Johannes 20:22* . Wat is die implikasie daarvan dat God se asem (of die Gees) in ons is, selfs in die gewone alledaagse dinge? Hoe verander hierdie bewustheid jou perspektief op jou daaglikse roetine en verantwoordelikhede?

*Kruisverwysings vir verdere studie:*

* *Job 33:4* : “Die Gees van God het my gemaak, en die asem van die Almagtige gee my lewe.”

* *Psalm 104:30* : “Stuur U U Gees uit, dan word hulle geskape; en U vernuwe die aangesig van die aarde.”

* *Handelinge 17:25* : “…omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.”

* *1 Korintiërs 15:45* : “Soos geskrywe is: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.”

*MUSIEKKEUSE VIR VANDAG*

Ek begin graag hierdie reeks met ‘n Taizelied: “ *Veni Sancte Spiritus* ” – Kom Heilige Gees! Mag dit jou gebed deur hierdie hele maand van Junie wees.