Die Gees: Transformeer begeertes tot dade
Dikwels dink ons aan 'n heilige lewe (m.a.w. gehoorsaam aan God se wil) – as 'n onbegonne taak. Ons probeer en val, streef en struikel, en eindig dikwels met 'n gevoel van mislukking. Die las van "moet" word swaar. Die vreugde van Christen-wees verdrink in die moeras van skuldgevoelens.
Maar, is dit dan onmoontlik? Nie as jy hierdie belofte van God glo nie: "_Ek sal vir julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee; … Ek sal my Gees in julle gee en maak dat julle volgens my voorskrifte lewe..._" (in Esegiël 36:26-27). Dit is nie ons eie wilskrag wat ons heilig maak nie, maar die Gees se werk in ons. Dit is die Gees wat in ons die begeerte na God se wil plant. En dan is dit die Gees wat ons die krag gee om daardie begeerte uit te leef.
Net die Gees kan die ystergreep van ons ou mens en ons ou gewoontes verbreek. En net die Gees sal “moet” verander in “wil”, en “wil” in “kan”.
ANKERGEDAGTE: Die Gees is God se inwonende "wilskrag" in my, wat "moet" in "kan" verander.
Gebed : Heilige Gees, verwyder my kliphart en vul my met U krag, sodat ek U wil met vreugde kan leef, elke dag.
DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Lees Romeine 6:1-14 en Filippense 2:12-13. Hoe verander die Gees ons verhouding met sonde, en watter rol speel ons in hierdie proses? Hoe kan die realiteit van die Gees se heiligmakende krag jou bemoedig en bemagtig?
Kruisverwysings vir verdere studie:
- 2 Korintiërs 3:18: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, soos van die Here, wat die Gees is.”
- Hebreërs 12:14 : “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.”
- 1 Petrus 1:2: “…uitverkies ooreenkomstig die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus.”
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
‘n Acapella-weergawe deur “Voices of Praise” is vandag se musiekkeuse. Hier sing hulle die bekende “ Spirit of the Living God ”.

