SPIRITUS VIVUS #18 (24 Junie)

Die Gees: Bruisende Bron van Blydskap

  "Goeie nuus verkoop nie." Maar, met hierdie aanhoudende bombardering van negatiwiteit sal selfs die reënboog later grys vertoon. Tog word die Heilige Gees in die Christelike teologie pertinent beskryf as die onblusbare, bruisende "Vennoot" van God se eie blydskap – 'n vreugde wat reeds in ons binneste woon!
  Die bekende teoloog John Piper skryf so: "Die Heilige Gees is nie bloot die kanaal van God se vreugde vir ons nie. Hy is die vreugde van God self, aan ons gegee." G’n wonder Paulus plaas blydskap direk na liefde wanneer hy die vrug van die Gees beskryf (Galasiërs 5:22).
  Romeine 14:17 leer dat " _Die koninkryk van God nie spys en drank (is) nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees._ " Ongeag jou omstandighede of uitdagings – wanneer die Gees jou beheer, word jou lewe 'n kragtige, onmiskenbare getuienis van Goddelike blydskap. Hierdie blydskap is jou teenmiddel vir die wêreld se pessimisme. Dit word die lig wat helderder skyn juis wanneer die skaduwees van negatiwiteit die langste is.

ANKERGEDAGTE: Die Gees vervul ons met 'n diep, standhoudende blydskap wat onafhanklik is van omstandighede.

Gebed : Heilige Gees, dankie dat U die onuitblusbare vreugde van God in my hart stort, selfs in die moeilikste tye.


DEEL B (vir diegene met meer tyd):

Lees Filippense 4:4-7 en 1 Petrus 1:8-9. Hoe kan die realiteit van die Gees as die bron van vreugde jou perspektief op die aanhoudende negatiewe om jou verander?
Kruisverwysings vir verdere studie:
Nehemia 8:10: “…die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting.”
Psalm 16:11: “U sal my die pad van die lewe bekend maak; oorvloed van blydskap is by u aangesig; lieflikhede in u regterhand, vir ewig.”
1 Tessalonisense 1:6 : “En julle het ons navolgers geword en dié van die Here, deurdat julle die woord met blydskap van die Heilige Gees aangeneem het onder groot verdrukking.”

MUSIEKKEUSE VIR VANDAG: ‘n Heerlike lied met ‘n melodie wat jubelend ronddartel kom van Jan de Wet, genaamd: U is my vreugde.