Die Gees: Verwyder vrees met vrymoedigheid
Een van die uitsonderlikste geskenke van die Heilige Gees wat in elke oomblik van die dag ‘n realiteit is, is om God nie net as 'n veraf Skepper of 'n regter te ken nie, maar as ons intieme Vader. Die idee om God, die Almagtige en Heilige HERE, met so 'n familiêre term aan te spreek, is eintlik radikaal en selfs skokkend. Tog leer Paulus: " _Julle het nie 'n gees van (vrees) nie, maar julle het die Gees van aanneming tot kinders ontvang, deur wie ons roep: Abba, Vader_ ” (Romeine 8:15).
Die Gees verwyder die vrees en afstand wat sonde veroorsaak het, en vervang dit met 'n sekerheid van liefde en aanvaarding. Vir baie mense is God altyd met ‘n wysvinger gereed om te raas; terwyl God eintlik die een is met ‘n oop hand wat uitnooi. Die Gees skep die intimiteit tussen ons en God wat ons in staat stel om met kinderlike geloof te leef, vreesloos te vertrou, en Sy onvoorwaardelike liefde te aanvaar.
ANKERGEDAGTE: Die Gees bewerk by ons ‘n vreeslose vrymoedigheid om God ons Pa-Vader te kan noem .
Gebed: Heilige Gees, dankie dat U my in die diepste verhouding met Abba Vader lei. Help my om elke dag in hierdie onvoorwaardelike liefde te rus.
DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Lees Galasiërs 4:4-7 en Romeine 8:14-17. Ons het elkeen ‘n Godsbeeld. Wat is joune? Is dit so intiem soos Paulus hier skryf?
Kruisverwysings vir verdere studie:
Efesiërs 2:18: “Want deur Hom het ons albei in een Gees die toegang tot die Vader.”
Hebreërs 4:16: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
“Abba-Father” is ‘n lied gekomponeer en uitgevoer deur Steve Fry. Die lied eindig op ‘n kragtige hoogtepunt. Geniet dit.

