SPIRITUS VIVUS #16 (naweeknadenke)

Die Gees: Ons Leermeester

  Ons streef daarna om God se Woord te verstaan, maar dikwels mis ons die belangrikste Helper in hierdie proses: die Heilige Gees. Ons dink dalk kennis kom uit intellektuele inspanning alleen, maar die Gees openbaar God se hart en waarheid op 'n dieper vlak. Die Bybel maak dit duidelik: " _Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie_ " (1 Kor 1:21). Daarom, soos Paulus verder verduidelik, kan ons van God se waarhede net werklik oortuig word " _deur die kragtige werking van die Gees_ " (1 Kor 2:4b).
  Hoe meer jy jou lewe deur die Gees laat beheer, hoe groter sal jou begrip van God se krag word. Hoe meer jy jou deur die Gees laat inspireer, hoe dieper sal jou begrip vir die omvang van die liefde van Christus word. Dit is 'n geestelike insig wat verder strek as bloot menslike redenasie. 
  Laat die Gees heelhartig toe om jou gedagtes voor te berei om God se stem deur Sy Woord te hoor. Dit is die werk van die Spiritus Vivus!

ANKERGEDAGTE: Die Gees is ons Goddelike Leermeester wat die Skrif vir ons oopbreek en die dieptes van God openbaar.

Gebed: Heilige Gees, dankie dat U my Leermeester is. Open my oë en my hart om U stem deur God se Woord te hoor en die dieptes van U waarheid te verstaan.


DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Lees 1 Korintiërs 1:26-30 en 2:9-16 . Op watter wyse praat hierdie gedeeltes vandag met jou?
Kruisverwysings vir verdere studie:
Johannes 14:26: “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”
Psalm 119:18 : “Open my oë, dat ek kan aanskou die wonders uit u wet.” (Of wat van die hele Psalm 119 deur die loop van die naweek?)

MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
‘n Musiekstyl wat nie noodwendig aan almal bekend is nie, is die sg. Dreun- of Gelyksang (“Chant”). Dit is onbegeleide, eenstemmige sang – gewoonlik ‘n teksgedeelte wat op hierdie wyse voorgelees word. Sara James lewer die gelyksang van Psalm 119:1-7 in hierdie video. DIe Engelse woorde verskyn in die lirieke.